Verhoor skop af

Die verhoor van twee mans wat ’n ma van Elim na bewering in haar huis beroof en vermoor het, begin Maandag 1 Augustus in Swellendam.


Die verhoor van twee mans wat ’n ma van Elim na bewering in haar huis beroof en vermoor het, begin Maandag 1 Augustus in Swellendam.

Die verhoor skop af presies een jaar en twee weke nadat Charlene October (49) se liggaam Maandag 12 Julie 2021 in haar huis in Proteastraat, Elim ontdek is.

Adjudant-offisier Jakobus Marthinus, Bredasdorp-polisiewoordvoerder, berig dat die verhoor, wat deur die Wes-Kaapse hooggeregshof behartig word, van 1 Augustus tot 15 September in die Swellendam-landdroshof sal plaasvind.

Charlene se eksman, Ashley October, en Tashwill van der Rheede is daarvan aangekla dat hulle saamgesweer het om haar te vermoor.

Van der Rheede is ongeveer drie weke ná die moord in hegtenis geneem en October is in November 2021 vasgetrek.

Albei mans is borgtog geweier.

October is van sameswering tot moord, aanhitsing om moord en roof te pleeg, huisbraak met die doel om te roof en moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede, moord en poging tot dwarsboming van die gereg aangekla.

Van der Rheede staar aanklagte van sameswering tot moord en sameswering tot moord en roof in die gesig.

Volgens Marthinus het die beskuldigdes se eerste regsverteenwoordigers van die saak onttrek en moes ’n nuwe regsverteen­woordiger op rekord geplaas word.

October het volgens berigte ’n privaat prokureur aangestel terwyl Van der Rheede op gratis regshulp staatmaak.

Charlene se familie sê hoewel hulle gelukkig is dat die verhoor volgende week begin, is hulle tog angstig oor wat voorlê.

“Ons gaan elke dag daar wees. Daar is dreaded anticipation oor wat gaan kom en wat ons in die hof gaan moet aanhoor. Om te hoor wat werklik gebeur het, gaan vir ons bitter sweet wees, want aan die een kant gaan dit vir ons antwoorde gee, maar aan die ander kant gaan dit ons hartsnare ruk om te hoor wat Charlene deurgegaan het,” het Alicia Jooste, Charlene se suster, hartseer gesê.

Die familie beplan ook om elke dag ’n gebedsessie te hê om voorbidding vir geregtigheid te doen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.