Vermeende bende-lede in hof oor moord

Vier mans het Dinsdag op aanklagte ingevolge die Wet op Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) en moord in die Hermanus-landdroshof verskyn.


Vier mans het Dinsdag op aanklagte ingevolge die Wet op
Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) en moord in die
Hermanus-landdroshof verskyn.

Nowell Hendricks van Mount Pleasant, Uwellin “Pork” Salies, Hylvon Neethling van Hawston en Cheslin de Beer is oor die naweek in
hegtenis geneem tydens ’n spesiale operasie wat deur die teenbende-eenheid in
Hermanus, Mount Pleasant, Kleinmond en Ashton uitgevoer is.

Die viertal staar verskeie aanklagte in die gesig wat onder
meer verband hou met ’n aantal moorde wat tussen 2014 en 2019 in die Overberg
gepleeg is.

Die beskuldigdes beklee na bewering hoë range in die
Terrible Josters-bende.

Salies is tans uit op borgtog. Hy is aangekla van die moord
op Francois “Blommie” Johannisen wat in Februarie in sy huis in Hawston
doodgeskiet is. Deel van sy borgtogvoorwaardes was dat hy nie in Hawston mag
kom nie. Hy is in Ashton in hegtenis geneem.

Brigadier Donovan Heilbron, bevelvoerder van die polisie in
die Overberg-distrik, sê dié moordklag vorm nie deel van die jongste saak teen
Salies nie.

“Dit is tans ’n aparte saak, maar kan moontlik in ’n latere
stadium bygevoeg word namate die ondersoek vorder,” het Heilbron gesê.

Volgens die brigadier was dié operasie deel van ’n
multi-faset-benadering om bendebedrywighede aan te spreek en hok te slaan. Die
batebeslagleggingseenheid, verduidelik Heilbron, vorm ook deel van dié
benadering aangesien daar in POCA-verwante sake op beskuldiges se eiendom en
bates beslag gelê word. Beide die Kaapse teenbende-eenheid en die Overberg
teenbende-eenheid was deel van die naweek se operasie.

“In die verlede was daar ’n duidelike toename in
bendebedrywighede in die aanloop tot die feestyd. Operasies van hierdie soort
word gedoen om die veilighed van die gemeenskappe wat ons dien te help
verseker, nie net oor die feestyd nie, maar regdeur die jaar. Ons wil deur
hierdie en ander soortgelyke operasies bewys dat daar wel lede van die polisie
is wat vertrou kan word,” het Heilbron gesê.

Heilbron doen ’n beroep op enigeen wat inligting oor misdade
in die omgewing het, om hom by 082 856 1687 te bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.