Wetstoepassers het op perlemoen met ’n geraamde waarde van meer as R1,2 miljoen, sowel as die voertuig waarin dit ná ’n hoëspoedjaagtog gevind is, beslag gelê.
Die bestuurder van die Nissan X-Trail kon egter daarin slaag om die lang arm van die gereg te ontduik deur op die vlug te slaan nadat sy voertuig in die plantegroei op die verkeersirkel by Voëlklip vasgeploeg het.
Volgens ’n verklaring deur die Overstrand-munisipaliteit het die voorval Woensdag 15 Mei plaasgevind toe beamptes van die Overstrand-wetstoepassing se reaksie-eenheid tydens roetine-misdaadvoorkomingspatrollies ’n voertuig gewaar het wat na bewering roekeloos en teen ’n hoë spoed op die R43 tussen Gansbaai en Hermanus gery het.
Die bestuurder van die Nissan het na bewering ook die beamptes se voertuig tydens die jaagtog probeer stamp.
Hy het na wat berig word egter beheer oor die voertuig verloor en op die verkeersirkel te lande gekom.
“Altesaam 5 262 eenhede perlemoen, wat in deursigtige plastieksakke verpak was, is in die wit Nissan X-trail gevind.
“Die geraamde straatwaarde van die perlemoen is R1,27 miljoen. Die vermeende smokkelaar en bestuurder van die voertuig het te voet van die toneel gevlug,” lui die munisipaliteit se verklaring.
Daar is beslag gelê op die perlemoen sowel as die voertuig en dit is aan die polisie oorhandig.
Kapt. Fadila September, die woordvoerder vir die Hermanus-polisie, het bevestig dat ’n saak in verband met die perlemoen wat verlate gevind is, ondersoek word.
In ’n afsonderlike voorval is twee vermeende stropers op Dinsdag 14 Mei tydens ’n gesamentlike operasie in die Hawston-hawe in hegtenis geneem.
Overstrand-wetstoepassing se taakspan en die LEAP-beamptes, tesame met beamptes van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, CapeNature, die Overberg-polisietaakspan en Boland se openbare orde polisie-eenheid (POP) was betrokke by dié operasie waartydens daar ook op ’n rubberboot en duiktoerusting beslag gelê is.
Die verdagtes het op aanklagte van die onwettige besit van perlemoen, sowel as duik in ’n verbode gebied in die hof verskyn.
In nog ’n voorval het ’n vermeende perlemoensmokkelaar in die Caledon-landdroshof verskyn nadat byna 3 000 eenhede perlemoen na bewering in sy besit gevind is.
Die verdagte is verlede week aangekeer toe beamptes van die Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid inligting rakende ’n voertuig wat vermoedelik perlemoen vanaf Gansbaai vervoer en in die rigting van die N2 reis, opgevolg het.Vasgetrek
“Die lede het bystand van die provinsiale verkeersbeamptes ingeroep om die voertuig by Caledon voor te lê,” lui die verklaring.
Die beamptes kon daarin slaag om die voertuig op die R316 in Caledon vas te trek. Daar is beslag gelê op 12 groen plastieksakke met 2 725 eenhede perlemoen daarin. Die bestuurder van die voertuig is in hegtenis geneem en na die Caledon-polisiekantoor geneem waar ’n dossier aangelê is.
Overstrand-wetstoepassingsbeamptes was ook betrokke by ’n voorval waar ’n verdagte wat reeds byna twee jaar lank in verband met ’n rooftog by die poskantoor in Kleinmond gesoek is, in hegtenis geneem is.
Sers. Abigail Naidoo, die woordvoerder vir die polisie in die Overberg-distrik, berig dat die klaer in die roof die verdagte op 2 Mei buite die poskantoor sien staan het.
“Hy het die man geïdentifiseer as die gewapende rower wat die poskantoor na bewering in 2022 beroof het,” het Naidoo gesê. “Die polisie is ontbied en wetstoepassingsbeamptes se bystand is ingeroep.”
Die verdagte is met behulp van die Overstrand-wetstoepassingsbeamptes in hegtenis geneem. Volgens Naidoo is ’n gaspistool in sy besit gevind.
“Die 34-jarige verdagte het op 3 Mei in die hof verskyn en die saak is tot 3 Junie uitgestel,” het Naidoo gesê.