Twee verdagtes is in verband met ’n huisroof in Hawston in hegtenis geneem.


Twee mans wat na bewering by ’n huis in Hawston ingebreek en die inwoners gedreig en beroof het, is aangekeer.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die verdagtes – onderskeidelik 28 en 31 jaar oud – is Woensdag 9 November in hegtenis geneem. Van die gesteelde goedere, waaronder ’n televisieskerm, motorradio en “dongle”, is teruggevind.

Een van die mans word daarvan aangekla dat hy en ’n makker verlede week by ’n huis in Marinerylaan, Hawston, ingebreek, ’n vrou met ’n mes gedreig en verskeie goedere gesteel het.

Regina Acker het volgens berigte wakker geword toe twee mans in haar kamer gekom, haar met ’n mes gedreig en geld geëis het. Haar sewejarige dogtertjie, wat langs haar geslaap het, is ook erg deur die voorval getraumatiseer.

September het bevestig ’n interne ondersoek is van stapel gestuur toe die slagoffer se pa, Dirk du Plessis, gekla het die polisie het nie onmiddellik reageer toe hy die voorval aangemeld het nie. Volgens Du Plessis moes hy ook R500 betaal om van sy gesteelde goedere en inligting oor die verdagtes te kry.

“Ek het al die moeite gedoen en die polisie inligting gegee oor die skelms en waar my gesteelde goed is. Iemand het een van die verdagtes na my huis toe gebring en ek het die polisie laat weet. Hulle het hom en die ander verdagte toe opgesluit,” sê Du Plessis.

September het bevestig dat die speurders inligting van Du Plessis opgevolg het en dat sers. Crystal Plaatjies op grond daarvan twee verdagtes in hegtenis geneem het.

“Dit is ’n goeie bewys dat vrugte afgewerp word wanneer die gemeenskap met die polisie saamwerk. Alle inligting word tot die beste van ons vermoë opgevolg. Genoegsame bewyse moet egter altyd eers ingesamel word voordat ons ’n verdagte in hegtenis kan neem en kan aankla,” het September gesê.

“Een van die verdagtes is vrygelaat omdat daar nie genoegsame bewyse was om hom met die voorval te verbind nie.”

Die ander verdagte het Donderdag 10 November op aanklag van huisroof en die besit van gesteelde goedere in die Hermanus-landdroshof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.