Vermeende stroper met kreef, perlemoen en alikreukel gevang

Fidelity ADT-patrolliebeamptes het gehelp om ’n vermeende stroper vas te trek wat met kreef, perlemoen en alikreukel in sy besit betrap is.


Fidelity ADT-patrolliebeamptes het gehelp om ‘n vermeende stroper vas te trek wat met kreef, perlemoen en alikreukel in sy besit betrap is.

Marius Boshoff, Fidelity ADT se Hermanus-takbestuurder, berig dat die gewapende beampte Dinsdag 4 Oktober omstreeks 21:00 met patrollies in Vermont besig was toe hy twee verdagte mans opgemerk het.

“Die mans het met swaar sakke in Siffiesingel geloop. Hul optrede het verdag voorgekom en die beampte het bystand ontbied,” aldus Bosohff.

’n AfriForum-Alfa-buurtwaglid het ook by die beamptes aangesluit om bystand te verleen. Die verdagtes het volgens berigte op die vlug geslaan toe die beamptes hulle gestop en hul sakke deursoek het.

“Die beamptes het hulle agternagesit,” sê Boshoff. “Een van die verdagtes het gestop, na bewering ’n metaalstaaf uitgehaal en die beamptes genader. Een beampte het sy dienspistool uitgehaal en ’n waarskuwingskoot gevuur. Dit het daartoe gelei dat die verdagte sy wapen laat val en homself oorgegee het”.

Volgens Boshoff het die tweede verdagte daarin geslaag om weg te kom en die polisie is ontbied om sy medepligtige in hegtenis te neem. Kaptein Fadila September, Hermanus-polisie se woordvoerder, het bevestig dat ’n 17-jarige vir die onwettige besit van perlemoen en kreef in hegtenis geneem was.

“Ses heel krewe, sewe alikreukels wat nog in die skulp was, agt ontskulpte alikreukels en 16 eenhede perlemoen is in sy besit gevind,” het sy berig.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.