Twee mans, onderskeidelik 35 en 25, het verlede Maandag in die Bredasdorp-landdroshof verskyn nadat hulle met ’n groot hoeveelheid perlemoen betrap is. AO Jakobus Marthinus, ’n woordvoerder van die Bredasdorp-polisie, sê die verdagtes is Vrydag 9 September omstreeks 21:00 aangekeer. “Die Bredasdorp-polisie se dwelm-eenheid het inligting ontvang van ’n verdagte voertuig wat op die Arniston-pad gesien is. Die beamptes het die pad afgesper toe hulle die voertuig gewaar. Die bestuurder van die verdagte voertuig het egter ’n U-draai gemaak en die beamptes het die voertuig agternagesit. Die verdagtes het volgens die polisie van die perlemoen uit die bewegende voertuig begin gooi,” sê Marthinus. Die twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat hul voertuig onklaar geraak het. Die polisie het op nog perlemoen, wat in die voertuig gevind is, beslag gelê. Die verdagtes het Maandag 12 September op aanklag van die onwettige besit van perlemoen in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.