Die polisie was vroegoggend op die toneel waar die liggaam van ’n leerder van die Hoërskool Overberg in Caledon volgens berigte Woensdagaand op die skoolterrein gevind is.
Dié skokkende ontdekking is gemaak ure nadat nuus oor Deveny Nel, ’n gr. 10-leerder van die skool, se verdwyning op sosiale media versprei is. In dié plasings wat onder meer op verskeie Facebook-groepe gedeel is, is genoem dat die jong meisie haar saamrygeleentheid na Grabouw verpas het.
Latere plasings het gemeld dat haar selfoon opgespoor is, maar dat daar steeds geen teken van die tiener was nie en dat haar ma haar by die polisie as vermis aangemeld het.
Kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die oorledene se ma haar Woensdag by die Grabouw-polisiekantoor as vermis aangemeld het toe sy nie ná skool by die huis opgedaag het nie.
Dié verslag is gesirkuleer en die polisie van Caledon het ’n soektog begin. Dié span het toe die belowende jong tiener se liggaam in ’n stoorkamer op die skoolterrein ontdek.
Van Wyk het bevestig dat ’n saak van moord deur die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad ondersoek word.
“Die omstandighede rondom die dood van ’n 16-jarige meisie wie se liggaam in ’n stoorkamer op die skool se perseel in Caledon gevind is, word ondersoek. Mediese personeel het haar op die toneel dood verklaar,” het Van Wyk berig.
Die skool het Woensdagaand ’n kennisgewing aan leerders se ouers uitgestuur waarin hulle van die leerder se dood in kennis gestel is en dat die skool vandag, Donderdag 8 Augustus, gesluit sal wees weens die polisie-ondersoek. Berading vir beide leerders en ouers is by die NG Moedergemeente aangebied.
Enigeen met inligting oor die moord kan die ondersoekbeampte, brig. Leon Hanana, by 082 522 2281 of die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 skakel.