Die oudleerders van Hoërskool Bredasdorp het herinneringe gedeel in wat destyds meneer Eps se klas was.


Bykans 80 oudleerders van Hoërskool Bredasdorp wat tussen 1963 en 1974 gematrikuleer het, het onlangs by hul alma mater reünie gehou.

Hul was aangenaam verras met al die veranderinge wat by hul alma mater aangebring is. Hul was ook baie beïndruk met die Triomf-muur waar nuwelinge in graad 8 die klok vir die eerste keer kan lui en ook later weer in matriek as hul hoërskoolloopbaan voltooi is.

Francois Potgieter (hoofseun 1969) en Thys Meyers (hoofseun 1970) het reeds voor die Covid-pandemie entoesiasties aan dié groot geleentheid begin reël. Nadat hul dit telkens moes uitstel, was die opgewondenheid groot toe hul uiteindelik Vrydag 29 April saam ’n funksie in die skoolsaal kon geniet. ’n Vertoning is selfs deur twee oudleerders gelewer.

Tydens ’n volledige toer Saterdagoggend deur die skool, was die groep veral opgewonde om weer in klaskamer 6, op die boonste verdieping in die hoek, in meneer Eps Joubert se destydse klas, te kon sit. Staaltjies en herinneringe is nostalgies gedeel. Daarna is die nuutgeboude Triomf-muur ingewy en het die groep die aand weer heerlik saamgekuier. Die nostalgiese naweek is die Sondagoggend met ’n kerkdiens afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.