Video bemoedig bejaardes

Twaalf mense, onder wie politici, akteurs, plaaslike inwoners en sake-eienaars, het boodskappe gestuur aan die inwoners van Gerimed-ouetehuis en Kogelpark-aftreeoord in Kleinmond, wat al die afgelope vier en ’n half maande in algehele inperking is


Twaalf mense, onder wie politici, akteurs, plaaslike inwoners en sake-eienaars, het boodskappe gestuur aan die inwoners van Gerimed-ouetehuis en Kogelpark-aftreeoord in Kleinmond, wat al die afgelope vier en ’n half maande in algehele inperking is. Trisa Hugo is die meesterbrein wat talle mense se bydraes met bemoedigende boodskappe in ’n emosionele video vir die inwoners van Gerimed en Kogelpark kombineer het. Volgens Alet Lloyd, bestuurder by Gerimed-ouetehuis, het die situasie by die tehuis ’n paar weke terug vererger toe vier van Gerimed se inwoners Covid-19 opgedoen het en al die inwoners tot hul kamers ingeperk moes word.  “Toe die strandmeer op 17 Julie in Kleinmond deurbreek, was my hart dadelik seer toe ek dink aan Pieta Pieterse en Isabella Wagenaar, twee ywerige fotograwe wat albei in Gerimed tydens dié spesiale gebeurtenis ingeperk moes bly,” vertel Hugo.

“Ek het toe besluit om ’n video te maak en het ’n klomp mense gevra om boodskappe te stuur om die bejaardes te motiveer en om vir hulle te wys hoe mooi lyk Kleinmond tans en wat hul alles misgeloop het,” sê Hugo.Die video van 15 minute begin met ’n boodskap van ’n plaaslike dokter in Kleinmond, dr. Lieze Morkel, waar sy goeie wense aan al die bejaardes stuur. Pierre van Pletzen en Sandra Vaughn, die bekende akteurpaar van Kleinmond, het ook ’n mooi boodskap vir die bejaardes gelaat. “Onthou, julle is my narsings van die saron, my lelie van die dale; dit is voorwaar vir my ’n riem reg onder die blaas om aan julle hulde te bring,” sê Pierre, wat bekend is vir sy rol as Oubaas in 7de Laan. Anton Goosen, die bekende Afrikaanse musikant van Gansbaai, het ook sy wense aan die inwoners van Gerimed en Kogelpark oorgedra. “Wat maak vir Kleinmond lekker? Die seaview maak vir Kleinmond lekker,” het Goosen gesing terwyl hy sy kitaar vlugtig getokkel het. Grant Cohen, die wyk 9-raadslid, het gesê hy dink aan die bejaardes. “Ons mis julle in die dorp. Julle is nie alleen in dié tydperk nie. Bly sterk, bly veilig en bly warm,” het hy gesê. 

Celeste Krouse, ’n plaaslike inwoner van Kleinmond, het die bejaardes in haar huis vir ’n “virtuele koppie koffie” genooi. Sy het voor haar huis gewys na ’n geverfde stoel met die boodskap: “And now these three remain: Faith, Hope and Love. But the greatest is love.” Dudley Coetzee, die Overstrand-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, het die bejaardes in Gerimed ’n spoedige herstel toegewens en inwoners herinner om hul maskers te dra en gereeld hul hande te was. Die 16-jarige Cassidy Adams van Kleinmond het ’n kort liedjie vir die bejaardes gesing voordat Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, sy boodskap aan die bejaardes oorgedra het: “Ek wil hê julle moet gou gesond word. Vir die paar wat Covid-19 positief getoets is, druk deur. Ek weet dis nie lekker nie want ek was self ook positief. Word gou gesond,” het Winde laat hoor. Mia Solomons het Psalm 91 namens Kleinmond se jeug vir die bejaardes voorgelees. Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse parlement, het sy wense aan die bejaardes oorgedra en gesê hulle moet na hulself omsien. “Ek weet julle sukkel met die lang tye van inperking en julle is in afsondering in jul kamers, maar druk deur,” lui Mnqasela se boodskap.

Johan Olivier van die Blou Bakkie sê hy was bevoorreg om langs die see te kon stap en die strandmeer te sien deurbreek.“Ek weet julle sou wat wou gee om dit self ook te kon ervaar. Wel, die winter het goeie reën gebring; die landerye is grasgroen en ons boere juig. Die seisoen is ook klaar besig om te verander. Op pad Caledon toe pronk die eerste songeel kanola’s al,” het Olivier in die video gesê. Hy het bygevoeg die Blou Bakkie mis die bejaardes en sien daarna uit om hulle gou weer te ontvang. Tussen elke twee boodskappe kan ’n mens ’n mooi natuurtoneel sien en by die Blou Bakkie se video sien ’n mens ’n klomp klante se vriendelike gesigte. “Ek wil almal vir hul bydraes en videos bedank. Ek moet raadslid Grant ook bedank, wat self al die video’s van die politici gekry het,” sê Hugo. Lloyd het namens hulself en Kogelpark Trisa en almal se kort video-insetsels bedank. Die vier inwoners van Gerimed-ouetehuis het onlangs almal heeltemal herstel en die meeste van hulle het min simptome getoon terwyl net sekeres lugweginfeksies opgedoen het. “Die video het my skoon ’n knop in die keel gegee. Dit is so mooi en ek wil al die prominente mense in die video vir hul mooi boodskappe aan ons bejaardes bedank. Ek gaan die video vanmiddag (Donderdag) in etenstyd vir die bejaardes wys,” sê Lloyd.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.