Die saga rakende die bobbejane in die Overstrand het ’n nuwe wending geneem nadat besluit is om vier bobbejaanmannetjies van die Pringlebaai-trop te verwyder.
Natuurliefhebbers is onthuts gelaat nadat die Overstrand-munisipaliteit (OM) in Desember aangekondig het dat die vier bobbejaanmannetjies na die Limpopo-provinsie geneem gaan word en daar in ’n reservaat geplaas gaan word. Nie net gaan hulle gesteriliseer word nie, maar hulle is ook uit hul natuurlike habitat verwyder. Wat hulle nog verder kwaad maak, is die feit dat die OM die belangegroep op 14 Desember gerusgestel het dat hulle nog nie besluite geneem het oor die bobbejane nie, maar op 20 Desember het hulle die nuus gekry dat die mannetjies verwyder gaan word.
Volgens die belangegroep wat na die welstand van die bobbejane omsien, is die mannetjies die slagoffers van die Overstrand-bobbejaanbestuursprogram.
Volgens die persverklaring wat die OM in Desember uitgereik het, is die vier bobbejane al van Oktober 2021 af deel van Pringlebaai en die jongste toevoeging het hom in Julie 2022 by hulle aangesluit.
“Al vier bobbejaanmannetjies het hulle aan stropery skuldig gemaak en het die meeste van die tyd in die dorp gewoon. Verdere klagtes is ook van inwoners gekry dat die vier mannetjies nie net kos direk van mense steel nie, maar ook deure oopmaak en dan die huise stroop,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê.
Volgens deskundiges is dit veiliger om die bobbejane uit die dorp te verwyder aangesien hulle hul vrees vir mense verloor het.
“Van die inwoners steur hulle nie aan die reëls nie en voer nie net die bobbejane nie, maar los hul vullis buite, wat die bobbejane na huise lok.”
Wat die groep verder laat rooi sien, is dat net een bobbejaanmannetjie gaan oorbly, na bewering ’n onervare mannetjie wat nou die trop moet lei. Luidens ’n persverklaring deur die ondersteuningsgroep wat na die belange van die bobbejane omsien, is die mannetjies slagoffers van die omstrede bestuursprogram wat in die Kogelberg-biosfeer bekend gestel is en het die vinnige besluit oor die verwydering van die bobbejane vrae laat ontstaan. “Die besluit het saam met die jaarlikse instroming van toeriste en vakansiegangers geval en dit is duidelik dat geld bo die natuur gesien word – dit is ’n duidelike patroon wat sedert 2019 gesien is toe die OM ’n kommersiële operateur aangestel het om die bobbejane te bestuur.
“Die konflik tussen bobbejane en die inwoners het toegeneem met meer mense wat in Pringlebaai kom woon en die diere se natuurlike habitat oorgeneem het,” het die persverklaring gelui.
Volgens die persverklaring is die troppe vroeër suksesvol deur die Pringlebaai-belastingbetalersvereniging en Cape Nature bestuur. “Hierdie moniteringsprogram, wat deur die gemeenskap finansier is, is as suksesvol beskou en menige inwoner het hulle oor die ‘ou manier’ van monitering uitgespreek.”
Die belangegroep vra die samewerking van die OM om na die belange van die bobbejane om te sien. Hulle het ook ’n beroep op OM se burgemeester Annelie Rabie gedoen om haar verbintenis tot die omgewing te herbevestig en saam met hulle aan volhoubare oplossings te werk. “Ons moet ’n balans vind, anders kan die natuur onherstelbaar beskadig word,” lui die persverklaring.