Suid-Afrika word beskou as een van die lande met die hoogste aantal verkragtings ter wêreld.
Na raming word een slagoffer elke 25 sekondes in die land verkrag of seksueel misbruik.
Slagoffers sluit vroue, babas, kinders en selfs mans in.
Studies toon dat die oortreders in die meeste gevalle aan hul slagoffers bekend is.
In een só ’n geval, wat onlangs in die Villiersdorp-distrik aangemeld is, is ’n 11-jarige seun na bewering verkrag toe hy by ’n maat gaan speel het. Wat die geval nog meer skokkend maak, is die feit dat twee minderjarige verdagtes, onderskeidelik 16 en 17, in verband met die voorval aangekla is.
Sers. Abigail Naidoo, ’n woordvoerder vir die polisie in die Overberg-distrik, sê die voorval het volgens berigte verlede Dinsdag (9 April) plaasgevind.
“Die slagoffer het dit die volgende dag by die skoolhoof aangemeld. Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek die voorval.”
In nog ’n skokkende voorval is ’n 17-jarige jongman van Blompark, Gansbaai, in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n familielid verkrag het. Volgens Naidoo is die verdagte in sy ma se sorg vrygelaat nadat die 20-jarige slagoffer die beweerde voorval op 9 April aangemeld het. Hy het verlede Woensdag (10 April) op aanklag van verkragting in die Hermanus-landdroshof verskyn.
’n Jong vrou van ’n plaas buite Napier is in ’n afsonderlike voorval in die bosse naby die Napier-kliniek verkrag terwyl sy op pad huis toe was.
Volgens Naidoo het die verdagte, wat aan die slagoffer bekend is, haar na bewering gedreig om nie die voorval aan te meld nie.
“Ten spyte daarvan het sy die saak aangemeld en die verdagte is in hegtenis geneem. Hy het verlede Woensdag (10 April) op aanklag van verkragting in die Bredasdorp-landdroshof verskyn,” het Naidoo gesê.
Lede van die Gansbaai-polisie, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GFP), lede van die Gemeenskap in Blou-organisasie sowel as die hoof van die landelike sektor en Naidoo het verlede week ’n plaas in die Baardskeerdersbos-omgewing besoek om bewusmaking oor verkragting, gesinsgeweld en ander misdaad te doen.
Dié projek, het Naidoo verduidelik, is van stapel gestuur na aanleiding van ’n 12-jarige meisie wat na bewering by drie geleenthede deur ’n 17-jarige verkrag is.
“Die slagoffer het by ’n familielid gekuier. Die familielid was volgens berigte onder die invloed van drank en het geslaap toe die verdagte na bewering sy slagoffer verkrag het. Toe die slagoffer huis toe gekeer het, het sy haar ouers ingelig oor wat gebeur het.”
Die verdagte het Woensdag 10 April in die hof verskyn.
Tydens die bewusmakingsveldtog is 100 pamflette met inligting oor presies wat verkragting is, hoe om dit aan te meld, wat om tydens die hofsaak te verwag en organisasies wat ondersteuning aan slagoffers bied, uitgedeel.
Naidoo het beklemtoon dat slegs die oortreder vir die verkragting of seksuele misdryf te blameer is en mense aangemoedig om alle soorte seksuele misdrywe aan te meld.
“Niemand is bo die reg verhewe nie. Dis belangrik dat gemeenskappe by bewusmakingsprogramme aansluit en slagoffers ondersteun. Meld seksuele misdrywe aan en moenie oortreders beskerm nie,” het sy bygevoeg.