Inwoners stap in die strate tydens hul vreedsame optog teen misdaad.


Inwoners van Villiersdorp is nou keelvol vir die hoë misdaadsyfer in hul dorp en het besluit om dié probleem aan te durf deur middel van die Civil Action Movement, wat onlangs gestig is.

Gradwin Swarts, die ondervoorsitter van die organisasie, sê: “Daar is ’n groot toename in misdaad die afgelope tyd. Dit sluit moorde en boendoe-howe in. In die afgelope twee weke was daar agt moorde op jong mense tussen die ouderdom van 18 en 36. Die plaaslike polisie is onderbeman en ons hoor nooit van enige inhegtenisnemings in verband met hierdie moorde nie.”

Lede van die gemeenskap van Villiersdorp het bymekaargekom om die Civil Action Movement te stig.

“Ons is ’n nie-politiese organisasie wat vergaderings begin hou het met die polisie, wetstoepassers, die munisipaliteit, raadslede en die kerkforum,” sê Swarts. “Die regering faal ons – veral in klein dorpies. Ons probeer oplossings vind en om met die polisie hande te vat.”

Swarts sê hulle het ’n memo­randum opgestel en op Jeugdag ’n vreedsame optog gehou, waarna die memorandum aan die stasiebevelvoerder van die Villiersdorp-polisie oorhandig is.

“Ons het ons misnoeë uitgespreek en verwag antwoorde,” sê Swarts.

Die kerkforum het Sondag die eerste van sewe weeklikse bidsessies gehou.

“Baie van die polisiebeamptes was teenwoordig en ons het vir hulle krag toegebid,” sê Swarts.

Die eerste bidsessie is ook deur Kallie Papier, die burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.