Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het die 2021-’22-vissersregte van die kommersiële sektor voltooi nadat 2 473 aansoeke ontvang is.
Die toekennings van vissersregte is in nege kommersiële sektore toegeken met die lys begunstigdes wat nou op die departement se webblad beskikbaar is. Regte vir die vang van stokvis, diepsee-trawl, stokvis-langlyn; suidkus-kreef, klein pelagiese vis (sardyn en ansjovis), Kwa-Zulu-Natalse skaaldier-trawl, Bodemshaai-langlyn, inkvis, tuna- pole line en tradisionele lynvis, is toegeken.
“In die beoordeling en toekenning van die kommersiële visvangregte het die departement alle aansoeke wat ontvang is, geëvalueer en beoordeel. Benewens die persoonlike inligting van elke aansoek, het die dokumente wat beoordeel is, ook inligting bevat wat verband hou met hul huidige en vorige betrokkenheid in die visserysektor, belegging in die visserysektor, prestasie- en voldoeningsgeskiedenis, hul transformasieprofiel en hul bydrae tot die vissery. Hierdie inligting is onder meer gebruik om te bepaal aan wie ’n kommersiële visvangreg toegeken sal word,” het die departement luidens ’n verklaring verduidelik.
Die hele proses was egter nie sonder struikelblokke nie. Daar was tegniese probleme met die aanlyn aansoekproses wat die departement genoodsaak het om die aansoekproses twee keer te verleng. Volgens die departement is die proses ook amptelik deur ’n onafhanklike waarnemer “vry, regverdig en deursigtig” verklaar.
Belangstellendes kan die departement se webblad besoek om te kyk hoe presies die departement die regte – deur middel van ’n puntestelsel – toegeken het. Verklarings van regte wat toegeken is, asook die telkaarte, is aan aansoekers gestuur en kan ook op www.frap2021.co.za verkry word. Die laaste aansoekers sal volgens die departement terugvoer oor hul aansoeke teen 29 Maart ontvang. Aansoekers en belanghebbendes sal dan 30 dae hê om appèl aan te teken. Die appèlle moet aanlyn op die voorgeskrewe appèlvorm op die FRAP 2021-webwerf voor of op die sluitingsdatum op 29 April 2022 ingedien word. Suksesvolle aansoekers moet aansoek doen vir vangspermitte en het 60 dae om die nodige fooie te betaal.