Inwoners en natuurliefhebbers van Kaap Agulhas was gewalg nadat vissermanne wat sloephaaie gevang het, hulle net so op die strand gelos het om te vrek.
“Sommige hengelaars is nie die naam visserman werd nie. Hierdie ‘onsmaaklike spesie’ het summier die lyn net afgesny en die haai enkele meters van die waterlyn gelos,” het die joernalis Pierre Massyn gesê.
Die voorval het in Desember tussen Suiderstrand en die skeepswrak gebeur. Volgens ander inwoners is dit geen nuutjie nie en gebeur dit oor die Overberg heen. “Ek het al gesien hoe vissermanne die diere net so op die strand los, en as ek hulle aanspreek, dan word ek geskel,” het nog ’n inwoner gesê.
Volgens die inwoners van Kaap Agulhas skitter amptenare van die departement van omgewing, bosbou en visserye (DFFE) ook deur hul afwesigheid. “Amptenare is omtrent nooit by die DFFE-kantoor in Struisbaai beskikbaar nie en ons klagtes val op dowe ore,” het van die inwoners gesê.
Hermanus Times het na die DFFE uitgereik om meer uit te vind oor die wette ingevolge die vang van haaie en die situasie rakende die DFFE-kantoor in Struisbaai.
Die volgende regulasies ingevolge die Wet op Mariene Lewenshulpbronne van 1998 (Wet nr. 18 van 1998) is van toepassing: . Regulasie (27) (1) (Die wegdoening van vis en akwatiese plante), bepaal dat geen persoon, behalwe op gesag van ’n permit, enige vis op die ontspanningslys soos uiteengesit in Bylaag 4, mag verkoop nie; . Regulasie (27) (2) bepaal dat: Enige lewende vis wat in stryd met enige bepalings van die wet gevang is, moet sover moontlik onmiddellik terug in die see geplaas word sonder dat daar verdere skade aan die vis aangebring word. Enige lynvis, wat in stryd is met enige bepaling van die wet, moet onmiddellik in die see teruggeplaas word, ongeag of dit lewend of dood is; . Regulasie 31 (2) bepaal dat geen persoon, behalwe as jy ’n permit het, meer as 10 haaie mag vang nie, of dit verkoop nie. As die wet oortree word, kan jy met R500 per haai beboet word. . Regulasie 30 (3)(b) bepaal dat geen persoon – behalwe as hy in besit is van ’n permit – haaie mag vervoer, verkoop of ontslae van raak nie. ’n Boete van R500 per haai word opgelê. . Regulasie 30 (3)(c) bepaal dat geen persoon, behalwe in besit van ’n permit, enige haai op die ontspanningslys soos uiteengesit in Bylaag 4 mag verkoop nie. ’n Boete van R500 word opgelê. . Regulasie (30) (3) (d) bepaal dat geen persoon, behalwe as hy in besit is van ’n permit, meer as 10 haaie (volgens bylaag 4) in hul besit mag hê nie.
Volgens Peter Mbelengwa, die DFFE se direkteur van kommunikasie, is die DFFE-kantoor in Struisbaai by die hawe geleë en die beamptes is verantwoordelik vir die wetstoepassing rakende die marienelewe. “Die personeel wat by die Struisbaai-kantoor is, bestaan uit twee beheerbeamptes en vyf ere-marienebeamptes,” het Mbelengwa gesê.
Mbelengwa sê verder die beamptes kan dadelik boetes uitreik as vissermanne die wet oortree. “As die totale boete per haai meer as R5 000 beloop, kan die beamptes ’n strafregtelike klag aanhangig maak. Verder kan die beskuldigde ’n boete van tot R800 000 of tronkstraf van twee jaar in die gesig staar, wat deur Regulasie 96 bepaal word.”