Die departement van omgewing, bosbou en visserye (DFFE)se voorskrifte laat vissers aan die kortste ent trek.
Die departement het in November 2023 visvangregte aan kleinskaalse vissers vir die volgende 15 jaar toegeken. Dit het beteken vissers moes van voor af begin en weer aansoek doen, met finansiering wat baie van hulle nie gehad het nie.
Met die nuwe stelsel voel vissers hulle word in verskeie aspekte benadeel. Volgens ’n plaaslike visser is daar baie struikelblokke, soos byvoorbeeld die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne, wat vissers verhoed om sekere spesies te benut, asook die allokering van spesies en regte, om net ’n paar te noem. “Ons kan nie kop bo water hou nie en kon die afgelope ses maande nie op die water uitgaan nie. Een van die ander wette wat ingebring is, het betrekking op die stigting van koöperasies.”
Volgens ’n voorsitter van ’n hawe-gebruikerskomitee is die mislukkingskoers van koöperasies meer as 70%, en dit is ’n groot bekommernis. “Ons het tot nou geen duidelike planne oor watter ondersteuning die departement sal verskaf nie, byvoorbeeld finansiering, hulpbronne, mentorskap en infrastruktuur. My droom is dat die relevante beleide en regulasies gewysig word om kleinskaalse vissers in te sluit,” sê hy. Hy voeg by die kleinskaalse visserysektor kan ’n groot rol vervul wat betref voedselsekerheid, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en volhoubare werkskepping.
“Al wat ons versoek, is dat die minister van die departement van omgewing, bosbou en visserye en sleutel-belanghebbendes na ons luister en bystand verleen. “Die kleinskaalse vissersgemeenskappe het hoop verloor.”Volgens Peter Mbelengwa, ’n woordvoerder vir die departement, is die implementering van koöperasies, soos in die kleinskaalse visserybeleid van 2012 uiteengesit is, ontwerp om vissers te bemagtig om kollektief en volhoubaar te werk. “Die mislukkingskoers van 70% wat deur die gemeenskap aangehaal word, is nie op enige gestaafde data gegrond nie.
“Ons is daartoe verbind om die sukses van die koöperatiewe model te verseker en werk nou saam met verskeie belanghebbendes in die verskaffing van deurlopende opleiding, infrastruktuur-ondersteuning en mentorskap aan koöperasies.”