Kleinmond het kort ná die feestyd letterlik die brandpunt vir brandbestryders geword nadat ’n veldbrand die afgelope Saterdagoggend by die departement van bosbou, visserye en omgewing se eiendom oorkant die gesogte Arabella-landgoed uitgebreek het.
Dié veldbrand, wat in ’n dig beboste gebied uitgebreek het, het groot rookwolke veroorsaak en die hele Overberg was vinnig bekommerd oor hul veiligheid – veral met die 2019-brande in Bettysbaai, waar lewens en eiendom verwoes is, nog vars in almal se geheue. Net voor die koerant op 11 Januarie drukkers toe is, was drie van die vier brand-sones in bedwang gebring. Paardeberg was in die stadium nog ’n kommerwekkende gebied wat op daardie tydstip nog heelwat warm gedeeltes gehad het.
Dag een
Aanvanklik het die brand, wat in die vroeë oggendure ontstaan het, na Perdeberg versprei, weg van die Highlandspad af. Met toestande wat Saterdag (8 Januarie) vinnig verander en die wind wat al hoe harder begin waai het, het Cape Nature se grondspanne op die linkerflank van die brand gefokus terwyl Working on Fire se spanne die regterkantste flank bestry het. Stappers is aangeraai om die gebied te vermy.
Die Overstrand-munisipaliteit en die Overberg-distrikskmunisipaliteit se spanne het ook alles in hul vermoë gedoen om die brand in bedwang te probeer kry. Teen die einde van dag een het die ICP (voorval-bevelpos) na Kleinmond se verkeersdepartement verskuif. Die brand was nou duidelik in die Hottentots-Holland-bergreeks bo Kleinmond aan die westekant van die dorp sigbaar.
Dag twee
Tydens dag twee van die brand het die brandlyn nader aan Heuningklip afgeskuif. Dit het ook nog hoër op in die berge nader aan die Arabella-landgoed gebrand. Op dag twee is die brandbestrydingshelikopters ook ingebring om die brand in bedwang te help kry. Die brandbestryders se prioriteitslys vir dag twee het die veiligheid van die omliggende gemeenskappe asook al die brandbestryders ingesluit. Pogings is aangewend om die brandlyne bo Kleinmond en Lamloch-plaas in bedwang te kry. Die doel was om die lyn so gou as moontlik te onderdruk met die meerderheid van brandbestryders en helikopters op die brandlyn bo die R44. Teen 14:00 Sondag 9 Januarie is die brand gedeeltelik onderdruk (50%) en tot dusver het ongeveer 2 400 hektaar gebrand. Teen 17:00 is ’n spitsuur aangekondig omdat die wind erg begin optel het en helikopters het brande aan albei kante van die berg gaan bestry.
Teen 19:00 is alle helikoptervlugte gestaak omdat die weer te gevaarlik was om te vlieg. Die R44 is teen 21:00 vir alle verkeer gesluit omdat rookwolke te dig was. Teen middernag het die brandlyn nader aan Arabella (sowat 3 km van die landgoed af) versprei. Dit het egter veroorsaak dat inwoners paniekerig geraak het en die omgewing wou verlaat.