Vlerke gesprei

Die Year Beyond-program, wat deur die Wes-Kaapse regering in samewerking met verskeie ander instansies aangebied word, gee jong mense die geleentheid om hul vlerke te sprei en te vlieg, en dit is presies wat twee jong vroue van die Overberg nou doen.


Die Year Beyond-program, wat deur die Wes-Kaapse regering in samewerking met verskeie ander instansies aangebied word, gee jong mense die geleentheid om hul vlerke te sprei en te vlieg, en dit is presies wat twee jong vroue van die Overberg nou doen.

Hermanus Times het met dié twee tydens hul gradeplegtigheid op 17 Maart in Caledon gesels.

Prudence Prins, van Caledon, sê: “Ek is baie lief vir kinders en werk graag met hulle. My langtermyndoel is om myself as onderwyser te bekwaam. Tydens die YeBoneer-program het ons nie net met kinders by biblioteke gewerk nie, maar ook uitgegaan na ECD-sentrums en kinders by Swartberg Primêr en Laerskool The Glebe in Myddleton met hul leeswerk gehelp. Die vertroue en ondervinding wat ek opgedoen het, was wonderlik.”

Prudence se groot nuus is egter dat sy later vanjaar in Amerika gaan verder studeer. “Ek het ’n beurs gekry om vir 10 maande in Washington DC te studeer. Die Amerikaanse departement van buitelandse sake stel die beurs beskikbaar aan Suid-Afrikaanse studente as deel van hulle CCI (Community College Initiative)-program. Ek het ’n aanlyn onderhoud gedoen, waarna ek genooi is vir ’n toets, wat by die Kaapstad-biblioteek afgelê is. Drie dae daarna het ek die aansoekvorms vir ’n paspoort asook mediese vorms wat ingevul moes word, gekry. Ek wou uit my vel spring van opgewondenheid!”

Prudence sien geweldig daarna uit om haar horisonne te verbreed en wanneer sy terug is, wil sy haar ondervinding hier in Caledon toepas. “Die gemeenskap is vir my baie belangrik. Ek wil ook graag aanhou studeer en sal dit buitemuurs doen.

“Ek het ’n sewejarige seun wat by sy pa sal bly. Gelukkig kan ons met moderne tegnologie gereeld met mekaar kommunikeer. Hy is baie opgewonde dat ek Amerika toe gaan en vra net ek moet vir hom ’n paar regte, egte Nike-tekkies bring.

“Hierdie is ’n nuwe ervaring; ’n nuwe begin. Wie nie waag nie, wen nie. Ek het gewen.”

Jaydene Maart van Genadendal het ook groot drome. “Ek het opgelet dat baie van die plaaslike kinders ’n leesagterstand het. Ons kon deur die YeBoneer-program stories by kleuterskole, biblioteke en skole vir die kinders lees. Die kinders het die stories wat ons vir hulle gelees het, baie geniet. Dit is belangrik om vir hulle te lees, want hulle ken nie meer kinderstories nie. Hulle bring te veel tyd voor die televisie of op hulle fone deur. Ek is bly dat ek ’n verskil aan die kinders se lewe kon maak.”

Jaydene sê sy het nou aansoek gedoen vir ’n administratiewe pos, maar tog voel sy ook dat dit nou tyd is om haar vlerke te sprei. “Ek wil nou ’n bietjie uit Genadendal wegkom. Ek wil skryf. Ek is tans besig om kortverhale te skryf en is verheug dat een van my verhale in ’n bekende Afrikaanse tydskrif gepubliseer gaan word.”

Op ’n vraag of sy dalk in die toekoms kinderstories gaan skryf, antwoord sy:” Hoekom nie? Alles is moontlik.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.