Strand-vlugbal is besig om al gewilder te raak – veral in Hermanus. Dié groep spelers kom elke Dinsdag en Donderdag by Onrus bymekaar.Foto’s: Pierre Photography Passion – 079 525 2742


Dit was een van die sportsoorte by die Olimpiese Spele wat seker die meeste gekyk is – miskien omdat die vroue in skrapse broekies gespeel en die mans met hul bruingebrande lywe gepronk het.

Strand-vlugbal se gewildheid neem by die dag toe en selfs in Hermanus groei die sportsoort by die dag.

Volgens Rocco Rademeyer het hulle verlede jaar in Augustus besluit om met strand-vlugbal te begin en was Onrus die geskikte plek vir dié aktiwiteit. “Net soos die noodlot dit wou gehad het, het ons in September begin, en toe kom daardie oorstromings wat die hele Onrus-strand onbereikbaar vir almal gelaat het.”

Hy sê toe opruimings afgehandel is, het Buffel [die plaaslike rondloper-rob] weer sy verskyning op die strand gemaak “en ons kon weer nie op Onrus oefen nie”.

Hulle het die aktiwiteite na Grotto verskuif en vandag is hulle dankbaar dat hulle terug is by Onrus.

Vir Rocco is dit verblydend om te sien dat die gewildheid van strand-vlugbal toeneem. “Ons is maar baie afhanklik van die weer en met die gure weer wat ons die afgelope tyd gehad het, bly die mense eerder binnenshuis. Maar ek glo meer mense sal nou elke week by ons begin aansluit.”

Rocco se belangstelling in strand-vlugbal kom van jongs af. “Ek was lid van die strand-vlugbalgroep van die kerk en daar is my belangstelling geprikkel. Dit is ’n baie sosiale sport en groot pret,” vertel hy.

Volgens Rocco kom ongeveer 50 lede in hierdie stadium gereeld speel, maar dit wissel van week tot week. “Ons wil graag meer mense lok, aan kompetisies begin deelneem en Onrus die mekka maak waar sport beoefen word. Die lyfplankry-kompetisie word elke jaar in Onrus gehou en Milk on the Beach is een van hul borge. Ons is baie dankbaar; hulle het ook gesê hulle sal ons ondersteun,” sê Rocco.

Volgens Rocco wil hy strand-vlugbal in die dorp bevorder en is dit nie net mededingend nie, maar ook vir groepe, spanbou en vir die pret.

“Ons is stadig maar seker besig om meer bekend te word en ek wil mense nooi om by ons te kom aansluit. Dit is ’n manier om nie net sosiaal met ander mense om te gaan nie, maar ook om van al jou werkstres ontslae te raak,” skerts hy.

Hy moedig ook mense aan om elke Dinsdag en Donderdag om 17:30 by Onrus bymekaar te kom.. Skakel 082 800 1600 vir nog inligting oor die strand-vlugbal wat Rocco by Onrus aanbied.

You need to be Logged In to leave a comment.