Lede van die Hermanus-vrouelandbouvereniging het vroeg in Oktober een van sy grootste projekte voltooi – die Alzheimer-vroetelvoorskootprojek.
Die projek is van stapel gestuur deur Nelmarie Theron, wat haar skoonsuster gereeld by ’n alzheimer-kliniek besoek het. Sy het daar gesien baie pasiënte vroetel gedurig met al die versierings aan ’n voorskootjie wat hulle gehad het.
Die idee is aan die VLV-bestuur voorgelê en beplanning het dadelik begin. “Toe ek tydens Covid-19 in my eie huis vasgekeer was, het ek begin knip en stik en versier en ‘speelgoed’ gemaak. Tien voorskote later was die uitdaging al meer dringend.
“Ons lede was geïnspireerd en die projek het momentum gekry. Ons het in Oktober 70 voorskote aan die alzheimers-instansies in ons dorp skenk met die boodskap dat ons vertrou dit sal ’n verskil aan baie mense se lewe maak.”