Dit is duidelik dat die Vrouelandbouverenigings (VLV) in die Overberg van krag tot krag gaan.
Tydens die sirkelkonferensie is dit duidelik dat die mededinging al strawwer word en die deelname al hoe meer.
Die Kleinmond-tak het ’n besondere standaard gestel en die hand-uitgesoekte sprekers en kunstenaars het hierdie konferensie vervolmaak.
Die tak met die meeste trofeë vanjaar was Caledon.
Die nuwe Overberg-sirkelpresident is Elbé Fourie en die nuwe vise-president is Magda Marais.
Die welwillendheidskers is deur die voormalige Sirkelpresident Hermien van Zyl (nou weer takvoorsitter van Kleinmond) aangesteek.
Die vergadering is deur die uittredende sirkelpresident, Rienie Lüdick, gelei, wat ook die oorhandiging van die trofeë gedoen het – en sy sélf het die voorsitterstrofee van die nuwe sirkelpresident, Elbé Fourie, ontvang.
Die heildronk van hierdie 90ste sirkelkonferensie – en ook die 90ste verjaardag van die Kleinmond-tak – is deur Cornie Swart, gewese president van Agri Wes-Kaap, ingestel. Hy het dadelik almal se aandag gehad met die woorde: “1934, met die heel eerste sirkelkonferensie van Overberg, was erger as Covid. Die Groot Griep was erger as Covid.
“Daar was maar 6,5 miljoen mense in Suid-Afrika. Dit was amptelik depressie in Suid-Afrika . . . dit is belangrik vir Agri Wes-Kaap om op die vrou in landbou se bewusmaking te steun. Sy moet haar beslissende stem behou. Sonder landbou in die Wes-Kaap – wat bly oor?” het hy gesê.
Hy het afgesluit met die woorde: “Die vrou in die Overberg het nog áltyd sterk gestaan.”
Vanjaar se Dankie-persoon, Johan Lusse, hoofbestuurder van landboudienste (graan) van Overberg Agri, sê Overberg Agri (voorheen CRK) is reeds in 1918 gestig en Bredasdorp Koöperasie in 1926, wat in 2005 tot Overberg Agri Landbou Beperk verander het. Deesdae is dit ’n filiaal van Acorn Agri and Food en word ongeveer 30 000 ton graan per jaar geproduseer. Sy stelling dat elke boer ook ’n pa en man is wat staat maak op die steun van sy vrou, het groot byval by die gehoor gevind.
Toesprake deur die burgemeester van Overstrand, dr. Annelie Rabie, en die aanbieder van die televisieprogram Voetspore, Johan Badenhorst, wat die afgelope 24 jaar 50 lande besoek het en onder meer twee kookboeke geskryf het, het konferensiegangers laat dobber tussen wanhoop en hoop.
Lüdick, die uittredende sirkelpresident van die Overberg, het ook hulde aan haar oorlede man, Hannes, wat haar deurgaans ondersteun het, gebring.