Die 90ste sirkelkonferensie van die VLVK (Vrouelandbou-vereniging van Kaapland) se Overberg-sirkel is Woensdag 13 Maart deur die VLVK Kleinmond aangebied.
Die sirkel bestaan uit sewe takke, naamlik Bredasdorp, Caledon, Gansbaai, Hermanus, Jongensklip, Kleinmond en Villiersdorp.
Die sewe takke het in verskeie kompetisies in die drie hoofafdelings meegeding, naamlik kunste en handvlyt, leefstyl: gebak en gebottel en leefstyl: handwerk. Die wenners van die eerste drie plekke in kunste en handvlyt, asook leefstyl: handwerk, dring deur na die VLVK-kongres wat in Augustus in Kaapstad gehou word en waar die verskillende sirkels teen mekaar sal meeding.
Die Caledon-tak het besonder goed gevaar en die trofeë behoorlik ingeryg.
Die tak en sy voorsitter, Corrie Fogwell, het altesaam nie minder nie as agt trofeë verower. Die gesogte presidentstrofee is aan die Caledon-tak toegeken op grond van die groeiende ledetal, bywoning van vergaderings, deelname aan kompetisies en werksessies wat gereeld gehou word. Met 1 103 punte het Corrie Fogwell ook ’n trofee verower vir die lid wat die meeste punte met deelname aan kompetisies behaal het.
Met 31 inskrywings elk deel Caledon en Bredasdorp die trofee vir die tak met die meeste kompetisie-inskrywings. Heelwat Caledon-lede se inskrywings was onder die topdrie in verskeie afdelings.
Johan Badenhorst van Voetspore-faam, deesdae ’n inwoner van Kleinmond, was die gasspreker. Ooreenkomstig die jaartema van die VLVK, “Ons Jeug Ons Toekoms”, het Badenhorst gepraat oor die nuwe dinamika wat jong lede na die Voetspore-span bring, want hulle kyk met ’n vars oog na dinge en hou die program relevant.
Elbie Fourie is op die kongres as sirkelpresident aangewys ná die uittrede van Rienie Ludick, met Magda Marais as visepresident.