Die Hermanus-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) het onlangs ’n merkwaardige mylpaal behaal toe dié tak op 27 Julie sy 92ste verjaardag by Rivendell gevier het.
“Ek staan half nederig voor julle vandag, want om hierdie huldeblyk aan VLV-Hermanus te lewer, staan ek in die skoene van ons geliefde Lydia Geldenhuys. Sy sou hier gestaan het; sy met haar grondige kennis van VLV-Hermanus en haar liefde vir haar dorp,” het Hermien van Zyl, voormalige sirkelpresident van die Overberg-sirkel, in haar toespraak gesê.
Dit is duidelik dat die Hermanus-VLV diep spore in die dorp en selfs omgewing gestap het. Nie net het die VLV-tak van krag tot krag gegaan nie, maar hulle het ook in 1956 die eerste keer die kongres vir die VLV-KP aangebied. Volgens oorlewering het 250 vroue destyds die kongres, wat ’n reusesukses was, bygewoon.
Ander mylpale wat dié tak die afgelope 92 jaar bereik het, was die eerste spitwerk in die NG kerk se tuin. Die VLV het ook die speelapparaat in die munisipaliteit se speelgrond geskenk, die eerste banke in Fernkloof is deur die VLV geskenk (ongelukkig is dit in die groot brand vernietig), die burgemeesterstoel is in 1952 met die inwyding van die munisipale gebou deur die VLV geskenk en die eerste strandrystoel is deur die VLV-insamelings in gebruik geneem.
Dit is duidelik dat die vroue ná 92 jaar nie op hul louere gaan rus nie en steeds ’n merkwaardige verskil in hul omgewing gaan maak. Soos Van Zyl tereg sê: “Dit is maar enkele nalatenskappe van die VLV-Hermanus. Ek wil julle aanmoedig – gaan maak in hierdie jaar, wat ons projek bewaar jou erfenis is, ’n lys van die VLV-erfenis in Hermanus en mag hierdie ou lady die 100 in waardigheid haal.”