Voorsitter sien uit na ruskans

David Coert, wat van 2011 tot 2021 die voorsitter van Boland se hoërskolerugby was, is al beloon met die beste administrateur in 2012 en 2019. Rick Marais van die Hermanus Times het met Coert oor sy loopbaan gesels.


David Coert, wat van 2011 tot 2021 die voorsitter van Boland se hoërskolerugby was, is al beloon met die beste administrateur in 2012 en 2019. Rick Marais van die Hermanus Times het met Coert oor sy loopbaan gesels. 

Hoekom het jy besluit om as voorsitter van skolerugby af te tree? Ek het aan die einde van 2018 met vervroegde pension afgetree – volgens die Boland-hoërskolerugbyunie (BHSRU) se grondwet moet jy ’n aktiewe onderwyser wees om op die BHS-bestuur te dien. 

Hoe lank was jy voorsitter van skolerugby? Van November 2011 tot en met 9 November 2021. 

Vertel ons van jou loopbaan? In 2001 kom my groot oomblik in BHS-rugby toe ek as spanbestuurder gekies word vir die o.16-Boland-Langebergspan. In 2002 was ek die o.18-Boland- Langebergspanbestuurder saam met Sammy Horne en Johan de Jager. By die toernooi wat by HTS Drostdy aangebied is, word ek gekies as Wes-Kaap se o.18-spanbestuurder ná die 2002-Cravenweek wat in Pietermaritzburg gehou is. Hierna was ek ’n spanbestuurder vir die volgende Boland se hoërskolespanne: o.16-Grant Khomo-span (2003-2005), o.18-Akademiespan (2006-2009), o.18-Cravenweek span (2010-2011). Die o.18-Cravenweekspan was die laaste Boland-span wat al drie sy wedstryde kon wen.

Vir watter hoërskolespan en Boland-rugbyspanne het jy as spanbestuurder opgetree? Ek was selfs bevoorreg om die BHS-en Boland-rugby by die volgende spanne as spanbestuurder te verteenwoordig: 2009: o.18- SA Akademiespan ná die 2009-Cravenweek in Kimberley, 2012 en 2013: die o.18-SA Skolespan vir die Internasionale wedstryde teen Wallis, Engeland en Frankryk. Ek is die enigste persoon wat by albei SA spanne as spanbestuurder kon optree. 

Watter posisies het jy al beklee in BHS se uitvoerende bestuur? Ek het in die BHS-uitvoerende bestuur sedert 2003 gedien in die volgende posisies: 2003 tot 2007: sekretaris, 2007-2011: tesourier, 2011 tot 2021: voorsitter. 

Waarom skolerugby? Ek het ’n groot passie vir rugby asook om vir leerders geleenthede te skep en was van mening dat ek my passie tot die beste op skolerugby kon uitleef.

Wat gaan jy die meeste van jou pos as  voorsitter by skolerugby mis? My rugbyvriende en bywoon van nasionale rugbyweke. Asook kameraadskap van rugbyvriende en rugbyvergadering (kameraadskap onder bestuurslede).

Waar het jou liefde vir rugby ontstaan? Vandat ek begin rugby by Mount Pleasant Primêr gespeel het – later tydens my kollege-jare, begin van my onderwysloopbaan en dan later ook by Atlantics-rugbyklub

Hoe het jy betrokke by skolerugby geraak? Tydens die begin van my onderwysjare as rugbyafrigter by Swartberg Sekondêr (Caledon).

Het jy ’n ander werk ook of is die voorsitterpos by skolerugby ’n voltydse pos? Was vir 35 jaar ’n onderwyser – van 1984 tot 2018 aan die volgende skole: Swartberg Sekondêr (1984-1993) en Hawston Sekondêr (1994-2018).

Wat dink jy van skolerugby in die Overstrand? Ek is van mening skolerugby is van goeie standaard. maar kan nog baie verbeter by sekere skole. Skole moet gedurig probeer om vir leerders beter rugbygeleenthede te skep. 

Wat is volgende op jou pad? Ek is tans besig met ‘scouting’ van o.15- tot o.18- hoërskoolspelers vir SA Rugby en hoop om dit tot die beste van my vermoë te doen en ten volle uit te leef.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.