Hoe woon jy die troosdiens by van ’n meisie wat jy na bewering verskeie kere gesteek en koelbloedig vermoor het? Hoe gaan jy dag ná dag aan met jou lewe en lag en gesels asof niks gebeur het nie?
Dít is van die vrae wat gevra word ná die inhegtenisneming van ’n 17-jarige seun Vrydagaand (16 Augustus) ná die moord op Deveney Nel, wie se bebloede liggaam voorverlede Woensdag (7 Augustus) in ’n stoorkamer by die Hoërskool Overberg gevind is nadat sy as vermis aangemeld is.
Die inhegtenisneming het gevolg ure nadat ’n troosdiens, wat beperk was tot die personeel van die Hoërskool Overberg, leerders en hul ouers, in die NG Moederkerk in Caledon gehou is.
Die polisie het Saterdagoggend vroeg bevestig die 17-jarige seun is die Vrydag ná ’n uitgebreide soektog deur ’n span van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade onder leiding van brig. Leon Hanana in hegtenis geneem.
Lt.genl. Thembisile Patekile, die provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan vir die deurbraak geprys en gesê dit dien as bewys van die verskerpte stryd teen misdaad teenoor vroue, kinders en ander kwesbare groepe.
Gemeenskap staan saam
Dat die 16-jarige Deveney se moord die publiek aangegryp het, was duidelik te sien uit die skare wat Maandag voor die Caledon-landdroshof, waar die minderjarige op aanklag van moord verskyn het, betoog het. Die saak is in camera aangehoor aangesien die beskuldigde minderjarig is.
Tanya Bippert van die organisasie One Billion Rising SA, sê mense het in groot getalle opgedaag om hul steun vir Deveney se familie te wys, te eis dat borgtog nie aan die beskuldigde toegestaan word nie en toe te sien dat geregtigheid seëvier.
Heindrich Wyngaard, voorsitter van die burgerregte organisasie Kaapse Forum, sê dié plakkate spruit uit aanmerkings wat gemaak is nadat dit bekendgemaak is dat Deveney met ’n mes doodgesteek is.
“Ons het baie vinnig agtergekom daar is ’n rasse-element met suggestie dat indien ’n mes ter sprake was, dit nie ’n wit persoon sou wees nie. In die bruin gemeenskap was daar ’n wens, ’n tipe versugting, dat dit nie een van ons kinders moet wees (wat van die moord aangekla word) nie.
Hy was vol lof vir die ondersoekspan en het beklemtoon hoewel mense soms die verwagting het dat die skuldige “oornag” aangekeer moet word, die polisie tyd nodig het om ’n deeglike ondersoek te doen en genoeg bewyse in te samel voordat ’n verdagte aangekla en voor die hof gebring kan word.
Volgens Wyngaard het die Hoërskool Overberg se hoof, Johan Jacobs, Kaapse Forum se aanbod om ’n veiligheidsoudit by die skool te doen, aanvaar. Dié oudit sal binnekort gedoen word en sal dien om ’n veiligheidsplan saam te stel wat die skool kan gebruik om veiligheid te verskerp indien hulle dit goeddink.