Liefdadigheidsorganisasies wat van staatsubsidies afhanklik is, sukkel om kop bo water te hou nadat betalings of ingekort of nooit aangepas is nie.
Om die potte aan die kook te hou, moet hulle vernuwend dink om bykomende geld in te samel.
Twee organisasies in Caledon – die Tafelronde Herberg en die Oase-dienssentrum, wat langs mekaar geleë is en nou saamwerk – het onlangs ’n baie welkome hupstoot gekry toe die bekende organisasie Dankie Lottolandhulle besoek het.
Die televisiespan van Dankie Lottolandhet dié twee organisasies in Mei besoek om opnames te maak vir die program en om groot verrassings te oorhandig.
Maryke Haywood, bemarkingshoof vir Lottoland-Suid-Afrika, vertel: “Ons het Oase-dienssentrum en Tafelronde Herberg kom besoek omdat dit vir ons wonderlik is om te sien hoe hierdie twee bure saamwerk om ’n verskil aan senior burgers se lewe te maak. Ons was egter bewus daarvan dat hulle baie hulp nodig het.
“Dankie Lottoland gaan na mense of organisasies wat reeds ’n groot verskil in hul gemeenskap maak, en dan vuur ons hulle aan om voort te gaan met daardie werk. Ek weet ’n baie groot behoefte bestaan in die Wes-Kaap vir Sassa-pensioentrekkers. Franceska Groenewald, wat Tafelronde Herberg benoem het, se passie waarmee sy daaroor gepraat het, het ons harte aangeroer.”
Dankie Lottoland gebruik altyd ’n bekende om die onderhoud met begunstigdes te voer en die bekende “Groen Koevert”, wat die inhoud van die verrassing bevat, te oorhandig. Margit Meyer-Rödenbeck het die onderhoude gevoer, en by Oase-dienssentrum vertel sy: “Aan die einde, toe almal ‘Dankie’ sing, is dit eintlik maar net wat ek ook wil sê: Dankie. Dit hou ’n mens dankbaar vir alles wat jy het. Die storie van hoe die mense van Caledon uitgereik en omgegee het ná die inbrake by Oase, het my regtig geroer.
“Dieselfde geld vir die Herberg langsaan. Dis ’n plek waar hulle tuis kan voel en wat hulle huis kan noem.”
Irene Cupido, bestuurder van Tafelronde Herberg, sê sy was heeltemal uit die veld geslaan toe sy hoor Dankie Lottoland kom Herberg toe. “Ek kan nie werklik beskryf hoe ek hieroor voel nie. Ek sien gewis die hand van die Here hierin. Ek moes ’n voorlegging met ons behoeftes aan Dankie Lottoland doen, en hulle het daarvolgens besluit wat hulle vir ons gaan gee. Ons raad sal besluit hoe die verrassing aangewend sal word.”
Die Oase-dienssentrum bestaan al 27 jaar en verskaf drie dae ’n week maaltye aan hulle lede asook aan inwoners van die Herberg. Edna Vashu, voorsitter van Oase, sê: Ek ken Dankie Lottoland en kyk gereeld na die program, maar ek kon dit skaars glo toe hulle noem dat hulle ons as een van hul begunstigdes gekies het.
“Tydens my onderhoud met Margit het ek genoem van die inbrake wat ons gehad het toe alles by ons gesteel is en hoe dit ons teruggesit het. Al ons elektriese toebehore asook die kosvoorraad is gesteel. Ek kan nie glo mense in ons gemeenskap steel van ons ouer mense nie. Ek is besonder dankbaar dat die hele gemeenskap saamgestaan het om ons deur hierdie krisis te help.”
Dié episode van Dankie Lottoland word Saterdag 18 Junie om 18.00 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai met ’n herhaling Woensdag 22 Junie om 17:00.