Anza Vorster se arm nadat die verpleegpersoneel van Hermanus-provinsiale hospitaal ’n naald in haar arm vergeet het.


’n Mens hoor gereeld gru-stories van pasiënte wat provinsiale hospitale besoek, en ’n inwoner van Hermanus het ook nou ’n bloutjie by Hermanus-provinsiale hospitaal geloop.

“Ek het die Vrydag (24 Junie) baie sleg gevoel en myself maar behandel, maar toe ek die Saterdag nog nie beter voel nie, het ek na die Hermanus- provinsiale hospitaal gegaan om behandeling te kry. Ek is so teleurgesteld – nie net moes ek lank wag om ingeboek te word nie, maar die behandeling wat ek daar ontvang het, was skokkend. Hulle het jou in ’n bed gesit, met ’n drup aan, en net gelos. Dié ervaring het nou ’n bitter smaak gelaat,” het Anza Vorster van Hermanus vertel. Die 62-jarige Vorster is ’n pensioentrekker, ly aan depressie en is medies ongeskik verklaar. Sy is afhanklik van die provinsiale hospitaal.

Vorster sê sy dink sy het dalk ’n ligte hartaanval gehad en sy is – ná ’n lang gesukkel – in die hospitaal opgeneem. Sy vertel sy is die betrokke Saterdag per ambulans daar aangebring. “Ek was baie swak en kortasem, is opgeneem, ’n drup is aan my gekoppel en ek is 20:00 ontslaan. Selfs die ambulanspersoneel het vir my gesê ek kort versorging.”

Sy sê sy weet steeds nie wat met haar fout was nie. Sy sê sy is net pille in die hand gestop en huis toe gestuur. Wat haar egter die meeste kwel, is toe sy ontslaan is, het sy nie beter gevoel nie en het sy steeds ’n brandpyn in haar arm gehad, net om later agter te kom dat die verpleegpersoneel die drup se naald in haar arm vergeet het. “Dit het die heeltyd gebrand en ek was ongemaklik en deurmekaar. Ek was geskok om te sien die drupnaald steek nog in my arm,” vertel sy.

Die volgende dag het haar skoonseun haar terug hospitaal toe geneem sodat die naald verwyder kon word. “Die veiligheidspersoneel het my skoonseun soos ’n skurk behandel. Nadat die naald verwyder is, het my arm baie gebloei en my skoonseun het aanbeveel ek moet my arm bo my kop hou.”

Roché Butler, ’n woord-voerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, sê sy is jammer om te hoor van Vorster se nagmerrie-ondervinding by die Hermanus-provinsiale hospitaal. “Ons sal met haar in verbinding tree om hierdie ondervinding met haar te bespreek. Ons kan wel bevestig dat sy op 25 Junie omstreeks 14:51 in die hospitaal opgeneem is en om 20:00 ontslaan is. Ons sal haar betrokke mediese dokumentasie nagaan en met haar opvolg indien dit nodig is,” het Butler op 12 Julie gesê.

Hermanus Times het weer met Vorster in verbinding getree en sy sê niemand het met haar kontak gemaak nie. “Ek bly verskriklik moeg en kortasem, maar ek sien nie kans om terug hospitaal toe te gaan nie,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.