Leonie Swartz en Glenda Rhoode by die komberse wat hulle vir Mandela-dag gaan uitdeel.Foto: Mariëtte Strydom


Dit verg net ’n paar entoesiastiese vroue om ’n groot verskil in die gemeenskap te maak.

Die Onrus-buurvroue Leonie Swartz en Glenda Rhoode het vir Mandela-dag 37 komberse en 30 mussies bymekaargemaak om aan minderbevoorregte mense in die Overstrand uit te deel.

“Ons weet Mandela-dag is eers op 18 Julie, maar ons wil nou al vir die behoeftiges hierdie goed uitdeel, want dit is reeds winter,” vertel Leonie.

“Dankie aan Muriel Pretorius en Colleen Rats, wat ook tot die skenkings bygedra het. Elke vrou het die ekstra myl gestap om ’n verskil in die lewe van inwoners te maak. Ons sê vir julle dankie.”

Die organisasies wat by dié goedhartigheid gaan baatvind, is Huis Lettie Theron, twee kinderhuise, die Camphill-gemeenskap en United Church se uitreikaksies.

You need to be Logged In to leave a comment.