Die gemeenskapsaktivis Isabel Bailey saam met vroue van Grabouw, wat Donderdagoggend in ’n vreedsame optog deur die strate van die dorp gestap het om hul stem dik te maak teen misdaad teen vroue.


Onlangse skokkende statistieke oor misdaad teenoor vroue het aan die lig gebring dat meer as 15 000 vroue in 2023 onder fisieke en seksuele geweld deurgeloop en meer as 960 vroue hul lewe verloor het.

Die destydse minister van polisie, Bheki Cele, het in ’n toespraak gesê “te veel vroue en kinders in Suid-Afrika is nie veilig tussen die mense wat hulle ken en vertrou nie”, en as ’n mens na die onlangse voorvalle in die Overberg kyk, is dit ’n feit.

Die onlangse dood van Deveney Nel van Grabouw, wat na bewering deur ’n medeleerder wreed om die lewe gebring is, en die saak van Dimpho Skelenge, wat na bewering deur haar kêrel vermoor is wat tans teregstaan vir haar moord (“Women’s lives matter”, Hermanus Times, 7 Augustus), is ’n bewys van die toenemende misdaad teen vroue en kinders deur mense wat hulle ken.

Na aanleiding van die voorvalle en aangesien dit Vrouemaand is, het ’n klomp vroue van Grabouw Donderdag ’n vreedsame optog deur die strate van die dorp gehou.

“Dit is tyd dat ons vroue opstaan teen geweld. Ons moet ons stemme dik maak,” het Isabel Bailey, ’n gemeenskapsaktivis van Grabouw, gesê.

Volgens haar loop te veel vroue onder geweldsmisdaad deur en kom die manne skotvry daarvan af.

“As vrou wil ek ander vroue vra om die saak by die polisie te gaan aanmeld. Daar is baie meer geweldsmisdade teen vroue as wat ons dink, want ons vroue is te bang om dit te gaan aanmeld. As jy nie teen die geweldsmisdaad gaan opstaan nie, gaan jy altyd ’n slagoffer wees en gaan die mans, wat hulle skuldig maak aan die misdaad, skotvry daarvan afkom,” het sy beklemtoon.

Volgens Charnel Hattingh, die kommunikasiebestuurder van Fidelity Services Group, is dit duidelik dat meer gedoen moet word om vroue veilig te hou.

“Daar is ’n [groot] behoefte dat Suid-Afrikaners moet saamstaan en ’n omgewing moet skep waar vroue veilig voel. Kom ons gebruik Vrouemaand om mense oor dié belangrike saak in te lig,” het sy gesê.

Sy het ook aanbeveel dat vroue ’n noodnommer altyd byderhand moet hou in geval sy in nood verkeer. “Van die sekerheidsmaatskappye bied ook selfverdedigingskursusse aan. Dit kan ook baie help as jy jou in ’n situasie bevind waar jy jouself moet verdedig,” stel sy voor.

You need to be Logged In to leave a comment.