Vroue maak speelgoed uit afval

Dit is glad nie nodig om duur speelgoed te koop om jonger kinders in speelgroepies te stimuleer en hul fynmotoriese vaardighede te ontwikkel nie – dit kan alles met herwinbare materiaal gedoen word.


Dit is glad nie nodig om duur speelgoed te koop om jonger kinders in speelgroepies te stimuleer en hul fynmotoriese vaardighede te ontwikkel nie – dit kan alles met herwinbare materiaal gedoen word.

Little Seeds, ’n gesamentlike inisiatief van Diaconia (eenheidsbediening van die NG en VG kerke), en Badisa het op 18 November ’n werksessie vir tuismoeders in die VG-kerksaal in Caledon aangebied.

Nicola Vermeulen van Little Seeds sê: “Hierdie is ’n werksessie om tuismoeders op te lei. Dit is ’n tuisprogram wat mense tuis doen vir ses kindertjies tussen drie en vyf jaar om hulle skoolgereed te kry.

“Ek leer hulle hoe om die program te volg en hoe om die speelgoed van herwinbare materiaal te maak.”

Hierdie is die tweede keer dat Little Seeds ’n werksessie by Badisa in Caledon aanbied. Tydens die eerste werksessie is storieverteller-opleiding gedoen.

Vermeulen, wat 36 jaar in die onderwys betrokke was, sê dit was baie aangenaam om hier werksessies aan te bied, want Badisa het die voetwerk in Caledon gedoen en hulle het die vroue wat reeds by die tuisprogram betrokke is, genooi om ook die werksessie by te woon. Vyf was van Tesselaarsdal.

Dit was ’n baie interaktiewe werksessie waar die vroue, onder Vermeulen se leiding, self van die speelgoed moes maak. Elke deelnemer het ook ’n omvattende handleiding ontvang.

Hermanus Times het met die deelnemers gepraat en almal was dit eens dat dit nie net baie leersaam was nie, maar dat hulle dit ook baie geniet het om van die speelgoed self te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.