Johan Badenhorst het geen bekendstelling nodig nie, want as leier van die Voetspore-reisprogram en aanbieder van die televisieprogram oor hul reise is hy al vir jare ‘n kuiergas in baie televisiekykers se sitkamer.
Die Caledon-Dameskring het Johan onlangs as deel van ‘n geldinsamelingsprojek genooi om gaste toe te spreek en ‘n bietjie meer van die Voetspore-span se reise te vertel. Johan het sy praatjie op sy innemende en rustige manier begin deur die ongeveer 150 gaste kortliks te vertel – en foto’s te wys – van die talle opwindende reise wat hy en sy span al onderneem het.
Johan se hoofpraatjie, toegelig deur fantastiese foto’s, was oor die span se reise van 2022 tot 2024 deur Suid-Amerika. Hy het meer besonderhede verskaf oor die interessante plekke wat hulle besoek het, die mense wat hulle daar ontmoet het asook dié mense se kultuur. Hy het ook heelwat inligting oor die vliegramp in 1972 in die Andes-gebergtes met die gaste gedeel. Van die 45 mense aan boord het 16 oorleef en hulle is eers twee maande ná die ongeluk gevind. Johan het op een van sy reise met twee van die oorlewendes gesprekke gevoer, onder wie dr. Roberto Canessa. Canessa, ‘n bekende pediatriese kardioloog en motiveringspreker, was een van die jong rugbyspelers van Uruguay op die vlug.
Die gaste het behoorlik aan Johan se lippe gehang en gevoel asof hulle saam met hom en sy span op reis was. Voor die praatjie het gaste ‘n heerlike hamburger, koffie/tee en iets soets geniet.






