Agt senior spanne en nege o.18-vroue-sewes-rugbyspanne het die afgelope naweek rugbyliefhebbers met opwindende aksiebelaaide wedstryde by die sesde jaarlikse Hermanus-vroue-sewes-rugbytoernooi trakteer.
Die spanne het sake Saterdag 24 en Sondag 25 Februarie op die Hoërskool Hermanus se velde uitgespook.
Michelle Bosch, wat die toernooi saam met Boland-vroue se hoofafrigter, Thomas Chowles, gereël het, sê hoewel ’n aantal senior spanne op die nippertjie van die toernooi onttrek het, was die opkoms goed.
“Ons is super trots op al die spanne, spelers, bestuur en afrigters. Ons is dankbaar vir die afrigters en spanbestuurders wat in vrouerugby glo en alles insit om die sport te promote. Wat opmerklik was, is dat spelers wat aan verlede jaar se toernooi deelgeneem het, aansienlik verbeter het,” het Bosch bygevoeg.
Twee spanne wat baie moeite gedoen het om die toernooi by te woon, het Michelle vertel, was die Middelburg Stormers, wat deurnag gery het, en ’n span van Mosambiek wat twee jaar gespaar het om aan die toernooi te kom deelneem.
“Dit is sulke stories wat jou dankbaar maak om deel te kan wees van hierdie amazing poging,” het Bosch bygevoeg.
Irene Bellamo, die stigter van die Magwanene-vrouerugbyspan van Maputo in Mosambiek, het in 2020 as ’n speler aan die toernooi deelgeneem.
“Ons het besluit om die meisies te bring om vir hulle hierdie wonderlike blootstelling te gee aangesien ons nie sulke geleenthede in Mosambiek het nie,” het Bellamo verduidelik. “Die atmosfeer is wonderlik en die rugby is van hoë standaard. Dit is vir die meisies ’n wonderlike belewenis want hulle is nie aan sulke goeie velde gewoond nie en dis vir hulle ’n nuwe ervaring om met rugbystewels te speel.”
Dié span het te staan gekom teen die Hoërskool Hermanus, wat hulle verslaan het.
Die R10C Rhinos het koning gekraai en die Walkerbabes in die eindstryd geklop om as wenners van die toernooi gekroon te word. Die span van Elsiesrivier het in derde plek geëindig.
In die junior afdeling het Galacticos die Amazonians in die eindstryd geklop.
Die organiseerders het die Dial-a-Physio-span, sowel as die Wildcat Inflatables, wat sedert die ontstaan van die toernooi die hoofborg is, en alle ander borge vir hul ondersteuning bedank.
Volgens Bosch beplan hulle groot dinge vir volgende jaar se toernooi. “Ons belowe om ’n toernooi aan te bied wat die oë sal laat rek.
“Ondersteuners kan ook uitsien na groot pryse wat uitgeloot of opgeveil sal word. Tref dus nou al reëlings om dit by te woon.”
Volgens Bosch het die toernooi gedien as ’n voorseisoen-oefening vir die senior Sanlam Boland-vrouerugbyspan. Dié span speel op 13 April sy eerste ligawedstryd teen die Cheetahs op die Hoërskool Hermanus se rugbyveld.
“Ons nooi almal hartlik uit om ons te kom ondersteun,” het Bosch gesê.