Dis ’n behoorlike “gekekkel” wanneer die vroue wat by die L2L Ladies’ Charity Walk (Lighthouse 2 Lighthouse) betrokke is, die 100 km oor vier dae stap.
Die L2L Ladies’ Charity Walk het op 14 Maart by die Kaap Agulhas-ligtoring begin en Alphia en Danie Schutte van Suiderstrand het hul deure vir die 116 flink en fikse vroue oopgemaak.
Die groep is deur die raadslid Andries Eksteen verwelkom, wat die staptog met die Camino, wat hy self gestap het, en die epiese ligtoringroete vergelyk.
Die Schuttes se verbintenis met die groep vroue het byna ’n jaar gelede begin toe die groep in gietende reën skuiling by hulle gesoek het.
Die eerste dag stap die vroue ongeveer 18 km van die Kaap Agulhas-ligtoring in die rigting van Pearly Beach. Daarvandaan pak hulle die lang pad na Die Dam, Pearly Beach en eindig by Danger Point in Gansbaai.
Die vroue het nie net gestap nie, maar op pad ook rommel opgetel en sodoende hul deel gedoen. 2024 is ook die jaar wat L2L sy mondigwording vier en volgens die vroue, wat elkeen R4 000 vir liefdadigheid moet insamel, is dit ’n hoogtepunt op hul kalender.
Van die organisasies wat by die L2L baat vind, is Overstrand-hospies, Huis Lettie Theron en Kleinmond-dierewelsyn.
Die volgende borge is betrokke:
Toyota Hermanus, Food Lover’s Market, Lighthouse Construction, Ocean Basket Hermanus, Refine, Walkerbay Pest Control, Hermanus Factory Shop, Azure One, Manzi, Crazylicious Cookies, Bierman Malan Optometrist, DreamDay Designs, Laser & Lace.