Suid-Afrika se 28ste Vryheidsdag is Woensdag 27 April gevier en in Caledon is dié dag baie interessant herdenk deur ’n bokstoernooi vir jeugdiges te hou.
Tirisano Trust het die toernooi by The One Heaven and Earth net buite Caledon aangebied. ’n Groot groep opgewonde jong boksers van Hermanus en Villiersdorp het uitgesien na hul beurt in die kryt en hulle is luidkeels deur die skare ondersteuners en die ringmeester, die bekende Mistur Ghee, aangemoedig.
Die Hermanus Times het met van die organiseerders en ondersteuners gesels.
Marius Hendriks, ’n amateurbokser van Hermanus, sê: “Hierdie dag is gereël om die boks-akademies van Hermanus en Villiersdorp blootstelling te gee en om moontlik ’n boks-akademie in Caledon te stig.
Bokser France Ramabolu sê: “Boks het my lewe ten goede verander. Hierdie is ’n geleentheid vir jong mense om vir hulle die voordele van die sport te wys. Om vir die kinders iets te gee waarna hulle kan uitsien en om hulle van die strate af te hou. Om vir hulle die dissipline wat boks verg, te leer.”
Alvin Botes, adjunk-minister van buitelandse sake, was een van die gaste teenwoordig. Hy sê: “Die vryheid wat ons 28 jaar gelede geëien het, is eintlik vir die kinders van die toekoms. Boksvernuf en toernooie soos hierdie is om te kyk na die vaardigheid van die jeug. My teenwoordigheid hier vandag is om die jong mense aan te moedig.”
Een van SA se kampioenboksers Cheslyn Mostert, wat al wêreldwyd aan gevegte deelgeneem het en wat spesiaal van Johannesburg gekom het vir dié geleentheid en vir twee kort gevegte in die kryt geklim het, sê: “Ek boks tans in die meestersliga vir mense bo 50. Hierdie is slegs ’n vertoonwedstryd, maar my boodskap aan die jeug is dat hierdie ’n platform is vir hulle om hul drome te volg. Boks is nie net slaan nie, dit verg geweldig baie dissipline. Hulle moet dié dissipline saamneem terwyl hulle in hul boksloopbaan groei sowel as in hul lewe. Jy kan nie buite die kryt baklei nie. Jy moet binne die kryt baklei.”
Vir sommige jong boksers het die geveg in teleurstelling en trane geëindig, maar hul afrigters was dadelik by om te troos, te bemoedig en om die les van “aanhouer wen” tuis te bring.