Aanhoudende klagtes oor die vuil water in Grabouw loop soos water van ’n eend se rug af by die TWK-munisipaliteit. Só sê onthutste inwoners van die dorpie.
“Van die begin van die jaar af gaan ons hier in Grabouw nie net gebuk onder vuil water nie, maar party gedeeltes in die dorp sit weke sonder enige water,” kla ’n inwoner van Pineview.
Volgens haar word watertenks wel by sommige plekke aangebring vir die inwoners wat sonder water gebuk moet gaan, maar soms is watertenks glad nie beskikbaar nie. “Ons het al gesien hoe kry kinders swaar omdat hulle geen water in hul buurte het nie. Dit is warm en die mense moet vloeistowwe inneem.”
Van die ander inwoners mor ook oor die probleem en sê dit is een van die redes waarom mense in die omgewing so baie maagvirusse kry. “Ons moet dan nie net eers die water kook voordat ons dit kan gebruik nie, maar ons kan nie eens ons wasgoed was nie aangesien ons wasgoed vuiler is nadat ons dit in dié water gewas het,” vertel ’n inwoner.
John Michels, die onderburgemeester van die TWK-munisipaliteit en self ’n inwoner van Grabouw, sê hy stel ondersoek oor die waterprobleem in.
“Die amptenare werk saam met my om ’n oplossing vir die probleem te kry en ondersoek verskeie moontlike oorsake daarvoor,” sê hy op Facebook.
Volgens hom speel beurtkrag ’n rol in die watersuiweringswerke en het dit glo veroorsaak dat die ystervlakke in die water dalk die effense bruin kleur afgee.
“Die voortdurende verhoging en verlaging van die waterdruk in die waternetwerke – weens die voortdurende wisseling van watervlakke in reservoirs – kon veroorsaak dat sediment wat binne waterpype opbou, loskom en die water moontlik effens bruin kan verkleur.
“Wanneer die watervlakke van die reservoirs ná die vorige week se beurtkrag genoegsaam herstel het, kan die reservoirs skoongemaak word en die waternetwerke gespoel word om alle moontlike sedimente uit die waternetwerke te spoel.
“Met beurtkrag wat vir eers verby is, is die ystervlakke weer onder beheer,” het hy gesê.
Michels het ook die inwoners belowe as die probleem voortduur, sal hy verdere ondersoeke van stapel stuur. Wat sê Grabouw se inwoners op Facebook:. Ja-nee, so moet ’n mens sit met gemors; ek sukkel nou nog om my toploader skoon te kry en klere is bruin gevlek.. Ek stel voor elke belastingbetaler trek elke maand die bedrag wat TWK vir water vra, doodeenvoudig van hul rekening af en betaal net die balans, maar nou wil ek ook sê weens die toename van al die blinkplaathuisies het ek ’n groot probleem met die rates en taxes wat die TWK van mense wat wel betaal, verwag.. Ek is al skoon moedeloos met die water wat nou al so lank só lyk. Maar ons moet ten duurste betaal, en dit is net nie reg nie.