Terwyl Suid-Afrika en die wêreld in die greep van die dodelike Covid-19-pandemie verkeer, is die belangrikheid van beskikbare hulpbronne, waarop veral die kwesbaarste dele van die bevolkingspektrum daagliks vir oorlewing staatmaak, opnuut in die kollig, soos die huidige besoedeling van die Vaalrivierstelsel van getuig. Pierre Massyn* werp ‘n perspektief op hierdie kwessie. Water is ‘n krities-belangrike hulpbron. Die beskikbaarheid of afwesigheid van water bepaal die mate waartoe vooruitgang in enige gemeenskap gedefinieer kan word. Bo en behalwe dit, is dit ‘n noodsaaklike lewensmiddel suiwer uit die oogpunt van ‘n biologiese behoefte. Water bevat elemente wat noodsaaklik is vir sekere metaboliese prosesse en die instandhouding van tande, bene, naels en hare. Wanneer water arm aan kalsium (Ca) en magnesium (Mg) is, kan dit byvoorbeeld ‘n toestand soos osteoporose in die hand werk. Om hierdie toestand teë te werk, word daar op kalsium- en magnesium-aanvullingstablette staatgemaak, wat by die meeste apteke bespkikbaar is. Suid-Afrika is ‘n waterarm-land. Met die uitsondering van die oostelike en suidelike kussones en die Laeveld, is die reënval in ons land óf te ontoereikend, óf te wisselvallig om deurentyd daarop staat te maak as volhoubare bron. Die watervlakke van ons grootste damme soos die Vaaldam en die Gariepdam daal soms gevaarlik laag, terwyl die Vaaldam veral aan erge besoedeling, veral van rou riool, blootgestel word – soveel so dat selfs die polities-behepte menseregtekommissie ook nou al ‘n eiertjie daaroor te lê het. Gevolglik maak boere en ander waterverbruikers op boorgate staat om waterbeskikbaarheid te skep. Die grootste gedeelte van Suid-Afrika is op ‘n platorand geleë. Dikwels is die ondergrondse kuile in klipbanke gesetel wat bestaan uit geologiese strata soos Karoo-sandsteen en Clarens-sandsteen. Daar is dan ‘n interaksie tussen hierdie formasies – feitlik sonder uitsondering kalkagtig – en die water in die ondergrondse poel. Wanneer ‘n boorgat geboor word en die ondergrondse waterbron bereik word – dit staan bekend as ‘n “aquafer” of in Afrikaans ‘n akwafer – is hierdie water feitlik sonder uitsondering hard. Die rede hiervoor is die aanwesigheid van kalsium en magnesium – Ca en Mg. Hierdie faktore veroorsaak karbonate, soos byvoorbeeld CaCo3 en MgCo3. Hierdie kalkaanpaksels skep enorme probleme en veroorsaak jaarliks miljoene Rande se skade aan verhittingselemente, koeltorings, koffiemasjiene, ysmasjiene en talle ander. Daar is wetenskaplik vasgestel dat een millimiter kalkaanpaksel op ‘n element sy eienaar verplig om 10% meer aan elektrisiteit te betaal. Boere ly veral onder hierdie verskynsel. Geiserelemente op plase kalk feitlik sonder uitsondering toe. Dieselfde geld wasmasjiene, ysmasjiene, verkoelers en skottelgoedwassers. ‘n Maatskappy soos Kumba aan wie die myndorp Kathu behoort, bestee byvoorbeeld jaarliks tot tussen R1 miljoen en R3 miljoen net aan onderhoud van verhittingselemente vir sy woonhuise en personeelkwartiere! Kalk skep byvoorbeeld ‘n geweldige probleem vir melkery-eienaars wat sensitiewe toerusting soos Alfa-Laval en Milkrite gebruik. Druppers, sproeiers en spilpunte word ook verstop deur kalk wat neerslaan in die vom van karbonate soos kalsiet. Die ander probleem is die een van die teenwoodigheid van sekere soute – uitgesluit magnesium en kalsium – in water. Oormatige soute in water staan hier by ons bekend as brak water, wat soms met harde water verwar word. Die analises van waters wat hoë soutvlakke bevat, sal aandui dat die kloriedes (Cl) en natrium (Na) gewoonlik 400 milligram per liter oorskrei. In my ondervinding van watertipes en –behandeling die afgelope 25 jaar, is die westelike kusstrook van Suid-Afrika, bekend as die Sandveld, asook dele van die Kalhari soos in die Akam-omgewing, tipiese gebiede wat deur brak water gekniehalter word. In die Mosselbaai-omgewing en elders het ek ook al brak water-stroke tëegekom. Op ‘n analise van waters wat hoog in natrium en kloried is (NaCl is byvoorbeeld niks anders as gewone tafelsout nie) sal die klassifikasie C-4 aangedui word. Dit beteken die water is onbruikbaar, hetsy vir menslik gebruik en beslis vir besproeiing. Wanneer daar dan gepoog word om met sulke brak water ‘n kontantgewas byvoorbeld te besproei, ondervind die boer tipies dat sy produk gestres word en ly onder wat genoem word loofskroei of brandblaar. Die dilemma van die boer is nou gewoonlik: ek het genoeg water in terme van beslikbaarheid en volume maar dis onbruikbaar! Moet ek my plaas verkoop en my onderneming laat vaar, of kan ek my water behandelbaar kry ten einde voort te gaan met my boerdery? Daar is enkele produkte op die mark om die probleem van hardheid en soute aan te spreek. Harsversagters stel natrium in die water vry wat die water ondrinkbaar maak en tuinplante vergiftig. Tru-osmose is gewoonlik onbekostigbaar duur. Die ander probleem hiermee, is dié van die vermorsing van water. Dit is al aangedui dat om een liter water te wen – die water word onder hoë druk deur ‘n membraan gepomp – tot sewe liter water verlore gaan. Omdat die membraan van ‘n tru-osmose stelsel aan geweldige druk blootgestel word, begin hy verweer en moet vervang word – ten duurste. Die moderne tendens is om water op ‘n omgewingsvriendelike manier te behandel. Daar ís wel ‘n produk op die mark in Suid-Afrika wat aan al die moderne boer se behoeftes voldoen. Ek mag nie die produk se naam op hierdie forum onthul nie, maar kan darem ‘n leidraad verskaf – hy kom van Israel: onbetwisbaar die wêreldleier op die gebied van waterbehandeling vandag, soos ek eerstehands ondervind het toe ek op Kibboets Machenheim – ja, dieselfde Machenhein van Genesis 32:2 – gewerk het. Geen boer het vandag tyd vir ‘n stelsel wat kort-kort aandag nodig het nie. Die boer soek ‘n produk wat inlyn en onbreekbaar is, nie deurlopende onderhoud nodig het nie en álle water behandel. Produk X voldoen aan al daardie vereistes. Vir 25 jaar lank het die produk homself bewys as die leier op die gebied van waterbehandeling in Suid-Afrika. Boonop is die produk volkome omgewingsvriendelik, gebruik geen chemikalieë nie, en sy baas is onafhanklik van Eskom, omdat hy geen elektisiteit benodig nie! Onlangs het ‘n wateranalise met ‘n natriumvlak van meer as 3000 milligram per liter op my lessenaar beland. Hierdie water is suksesvol behandel – en dit sonder die gebruik van skadelike chemikalieë! My blootstelling aan Israeliese tegnologie op kibboets Machenheim (naby die See van Galiliea en net voor jy die grenspos Metullah op die grens van Libanon kry) het my geleer dat ‘n katalitiese omsetter, of atoomiseerder verreweg die koste-effektiefste manier is om met harde water klaar te speel. ‘n Unieke kernstaaf met veelvuldige metale en minerale ingegiet, stel ‘n katalisator in staat om katione te neutraliseer oftewel te de-ioniseer. En ja, kalsium en magnesium is juis katione wat daardie pes van ‘n kalkneerslag vorm wat ons boere soveel las gee! Dit is algemene kennis dat die meeste staatsdepartemente as gevolg van die ANC-bewind se verfoeilike gebruik van kaderontplooiing, heeltemal in duie gestort het. Die ou Departement van Waterwese en Bosbou, waar ek in die 90-er jare as Kommunikasiebestuurder van die Lesotho Hoogland Waterprojek gewerk het, is geen uitsondering nie. My kollegas was hoogs bekwame, toegewyde amptenare, baie van hulle hoogs-gekwalifiseerde ingenieurs. Ons het ‘n kantoor onder die kranige Duitser Hans Pettenberger in Maseru gehad en daar is letterlik jare lank gewerk aan die omvattende en deeglike Verdrag met Lesotho waarin die briljante Theo van Roebbroeck wat onlangs oorlede is, ‘n reuserol gespeel het. (Von Roebroeck kon minstens sewe tale vlot praat en is onlangs oorlede.) Ons verteenwoordigers op die Gesamentlike Permanente Tegniese Kommissie het gesorg dat Suid-Afrika se saak klinkklaar en onomwonde gestel word. Lank voor die Katsedam in die Maluti’s van Lesotho gebou is, het spanne van “Waterwese” vir maande lank studies oor reënval in die opvanggebied uitgevoer en vloeivolumes van strome en riviere in die hooglande van die Bergkoningkryk wetenskaplik en akkuraat gemeet; ons ingenieurs het saam met die bestes van Frankryk en Duitsland se kontrakteurs en konsultante skouers geskuur toe daar met die Projek begin is. Daar was selfs ‘n Afdeling van Damveiligheid in “Waterwese” se kantore in die Residensiegebou in Schoemanstraat, Pretoria! Die vorige regime word sedert geblameer 1994 vir alles wat in die land verkeerd is en was, maar as dit nie vir die vêrsiendheid van die owerhede van destyds was nie om hierdie projek wat water na die nywerheidshartland van van Suid-Afrika, Gauteng, via die Vaaldam te voorsien nie, was Suid-Afrika op sy knieë wat watervoorsiening betref. Jy kan dus die boere wat ons land voed, geensins blameer as hulle hul eie waterbronne skep nie – lees boorgate. Die tendens is om onafhanklik en selfvoorsienend te word en al hoe meer dorp- en stadbewoners verkies ook eerder om nie van plaaslike owerhede se dienste, insluitende watervoorsiening, gebruik te maak nie. ‘n Stad soos Kimberley byvoorbeeld, gaan al weke en maande lank mank aan watervoorsiening. Op Koster het die belastingbetalers self ingegryp nadat dit aan die lig gekom het dat die ANC-raad kwaadwillig die watertoevoer met riool besmet! Die verplaasde probleem is egter dat meer boorgate toenemende druk op die ondergrondse waterbronne plaas. Meer mense benodig meer water. Kortom: die watertafel daal. Hoe minder daardie onderaardse voorraad word, hoe hoër word die konsentrasies opgeloste mineralesoute wat opbou en hoe brakker en harder word jou water, en hoe groter word die potensiaal vir skade aan jou toerusting. En met ‘n bevolkingsgroei wat hand-oor-hand toeneem omdat die regering die bevolking aanmoeding om meer kinders te produseer – vir elke kind kry jy mos meer – word die druk nie net groter op die waterbron nie, maar ook op die boer om te bly produseer om die honger massas te voed. Soos dinge nou reeds staan, voed slegs 35 000 boere – verreweg die meeste van hulle wit en Afrikaans – 60 miljoen Suid-Afrikaners en miljoene mense in ons buurlande ook. Die bestuur van ons krimpende waterbronne en waterbehandeling, behoort een van die regering se grootste prioriteite te wees – nie kaderontplooiing, SEB en die obsessie met inmenging in ons nasionale sporte om toe te sien dat kwota’s gebruik word om ons spanne “verteenwoordigend van ons bevolkingsamestelling” te maak nie.
*Pierre Massyn is die voormalige kommuniksiebestuurder van die Lesotho-hoogland-waterprojek en die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra. Hy ageer die afgelope 25 jaar as onafhanklike waterbehandelingskonsultant.