Die Walkerbaai-vrouerugbyklub het die vrouerugbyliga ná ’n taai stryd teen Klub Sentraal van Wellington gewen.
Met bekende name soos Anelca Hess (voormalige o.20-Springbokspeler) en Abigail Jantjies (oud-Springbokspeler) van Sentraal en Zena Swart (o.20-Springbokspeler), Theresa “Trixie” Ruiters (voormalige sewesspeler en Boland-vrouerugbyspeler) en Ayakha Soga (SA o.20-speler) van Walkerbaai, kon die skare verseker wees van topklas-vrouerugby.
Die eindstryd van die vrouerugbyliga het Saterdag omstreeks 11:45 op Hawston se sportterrein afgeskop met ongeveer 500 toeskouers wat die spanne aangemoedig het. Walkerbaai het in die 20ste minuut die voortou geneem en die telling 7-0 gemaak. Sentraal het deurgedruk en die telling gelykop gemaak voordat die span nog vyf punte aangeteken het om teen halftyd 12-7 voor te loop. Walkerbaai se afrigter, Maxine Valentine, het ’n paar deurslaggewende veranderinge aan haar span aangebring. Vol nuwe stoom het Walkerbaai se vroue nog drie drieë gedruk om die eindtelling 24-12 te maak. Megan Swarts van Walkerbaai is as die speler van die wedstryd aangewys nadat sy drie drieë aangeteken het.. In die Grootuitdaagreeks het die spanne van Hawston Skrik vir Niks en Caledon “Anne Level” mekaar daarna die stryd aangesê met Skrik vir Niks wat die wedstryd met een punt (28-27) gewen het. Rangers van Bredasdorp het sy tuisveldvoordeel behoorlik benut en die besoekers van Kleinmond 57-11 gelooi. Genadendal het Atlantics 32-12 geklop terwyl Safcol sy wedstryd teen Botla Fire 28-12 gewen het. Black Leaves van Gansbaai se eindtelling teen Grabouw was 19-16.
Die volgende wedstryde word Saterdag 17 September gespeel: Black Leaves vs. Hawston, Kleinmond vs. Safcol, Caledon vs. Rangers, Botrivier vs. Genadendal en Grabouw vs. Atlantics.