Walvisfees weer in Hermanus nadat Covid dit vir twee jaar gekelder het

Walvisfees weer in Hermanus nadat Covid dit vir twee jaar gekelder het


Sakelui en inwoners van Hermanus is opgewonde om weer gaste en feesgangers die naweek by die Walvisfees te verwelkom nadat die fees vir twee jaar weens die Covid-19-pandemie afgestel is.

Op 29 September is die fees amptelik geopen en die burgemeester, dr. Annelie Rabie en haar burgemeesterkomitee sowel as ander bekendes van die dorp het die feesopening bygewoon. Volgens die gastehuiseienaars is dit ‘n welkome terugkeer van die fees na twee jaar se droogte en is die meeste van die gastehuise in en om die dorp reeds vol bespreek.

“Die afgelope tyd was daar ‘n baie groot toename van toeriste na ons dorp en is ons kamers elke naweek vol bespreek. Na twee jaar wat ons swaar getrek het en gewonder het hoe ons, ons deure gaan oophou, is ons vandag dankbaar dat alles na normaal terugkeer – al is daar beurtkrag,” het ‘n gastehuiseienaar aan Hermanus Times gesê. 

Die fees beloof om soos in die verlede pret en plesier vir oud en jonk te verskaf. Daar gaan marine-praatjies sowel as ‘n skattejag wees en soos oudergewoonte is daar ook die veteraan-motorskou in Sandbaai. Verder kan jy jou verlustig aan al die kosstalletjies en ander stalletjies met interessanthede. 

Een van die hoogtepunte is die Sterkmankompetisie wat Sondag om 11:00 by die Ou Hawe gaan plaasvind en vir die rugbyliefhebbers is daar rugby op die Mount Pleasant-sportterrein. Vir meer inligting oor die Walvisfees en die program, besoek die Facebookblad Hermanus Whale Festival.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.