Water in Grabouw steeds onder druk

Dit voel soos nou die dag toe inwoners van Grabouw hul misnoeë rakende die dorp se waterpro­bleme op televisie uitgespreek het. Om presies te wees was dit op 23 Maart toe inwoners oor die vuil bruin water gemor het.


Dit voel soos nou die dag toe inwoners van Grabouw hul misnoeë rakende die dorp se waterpro­bleme op televisie uitgespreek het. Om presies te wees was dit op 23 Maart toe inwoners oor die vuil bruin water gemor het.

Destyds het die Theewaterskloof-munisipaliteit (wat uit ’n koalisie van die PA, ANC en GOOD bestaan), die skuld op die vorige beherende DA-raad geplaas, wat volgens hulle nie instand­houdings­werk gedoen het nie. Maar nou, ses maande later, sukkel die inwoners van veral Pineview en Rooidakke steeds met waterprobleme.

“Dit is nou al twee weke wat ons aan en af water het, en as ons water kry, is dit bruin of ander kere spierwit van al die kalk. Dit is ’n heen-en-weer-geliegery. Eers het hulle beurtkrag die skuld gegee, toe is dit die instandhoudingswerk,” het Isabel Bailey, ’n gemeenskapsleier wat in Pineview-Noord woon, gesê.

Een van die DA-raadslede in Grabouw, Sammy Fredericks, het die gemeenskap gevra om water vir van die buurte te skenk. “Ons as inwoners word deur dieselfde probleme getref en ek vra julle om te help waar julle kan. Kom ons vat hande en help om die druk van die watersui­werings­aanleg af te neem,” het hy in ’n Facebook-boodskap gesê.

Bailey sê hulp is al vir die raad aangebied om die probleem op te los. “Baie mense het hulp aangebied, maar vir ons leiers gaan dit nie oor mense nie, maar hul posisies,” het sy afgesluit.

Die TWK se munisipale bestuurder, Boy Manqoba Ngubo, het in ’n persverklaring gesê: “Die probleme wat tans met die watervoorsiening in Grabouw ondervind word, spruit uit lang- en korttermyninvloede. Sedert Grabouw se waternetwerke ’n paar dekades gelede ontwikkel is, het instandhouding en opgradering van infrastruktuur stadig plaasgevind. Die hoër as verwagte bevolkingsgroei het veroorsaak dat die ontwerpkapasi­teit van die infrastruktuur minstens 15 jaar vinniger as beplan kapasiteit bereik het.

“Die huidige vraag na water is aansienlik groter as wat oorspronklik voorspel is, en waterkapasiteit het nie met bevolkingsgroei tred gehou nie. ’n Program vir omvattende instandhouding en opgradering is intussen ingestel. Kontrakteurs het Woensdag 7 September met fase 1 van die opgradering begin.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.