“Die water lyk al beter, maar daar is steeds plekke in Grabouw wat onder die waterkrisis gebuk gaan.”
Só vertel ’n inwoner nadat Grabouw die afgelope paar maande onder die waterprobleme ly. Party buurte was vir dae lank sonder water en ander buurte se water was so vuil dat inwoners nie hul wasgoed kon was nie.
Die gemeenskap was keelvol en nadat hul klagtes op dowe ore geval het, het hulle hul tot die televisienuus gewend. Onder die gemeenskapswerker Isabel Bailey, het inwoners opgeruk toe die televisiespan Pineview besoek het. Met plakkate in die hand en selfs voorbeelde van hoe die water lyk, het Grabouw daardie aand hoofnuus gehaal.
Maar wat sê die Theewaterskloof-munisipaliteit? Tydens ’n onderhoud met die burgemeester, Kallie Papier, is die vorige raad kwalik geneem omdat geen onderhoudswerk gedoen word nie. In ’n skrywe op TWK se Facebookblad, verduidelik Wilfred Schrevian Evan Solomons-Johannes, die direkteur gemeenskapsdienste van die TWK: “Die watersituasie in Grabouw is vir ’n lang tyd reeds onder geweldige druk.
“Onlangs het die vraag na water die munisipaliteit se vermoë om te lewer begin oorskry. Bestaande infrastruktuur kan nie aan die bestaande vraag na water voldoen nie. Dit is grootliks weens die dorp se groei en populasietoename. Dringende veranderinge is nodig om watervolhoubaarheid en ’n goeie watergehalte te verseker. Weens die huidige situasie en veranderinge word die munisipaliteit verplig om beurtwater in die hele Grabouw te implementeer. Die voorlopige begindatum vir die implementering van beurtwater is op 24 Maart. Daar word tans bereken dat normale watervoorsiening op 2 Mei hervat sal word.”
Volgens die inwoners is hulle tog optimisties dat die munisipaliteit aandag aan die probleem gee. “Wat my egter bekommer, is dat ons, ons tot die media moet wend voordat ons reaksie kry,” het ’n inwoner gesê.