Inwoners van die Kaap Agulhas-munisipale bedieningsgebied sal hul watergebruik drasties moet verminder nadat streng waterbeperkings sedert Dinsdag 1 November ingestel is.
Die Kaap Agulhas-munisipaliteit het verlede week aangekondig dat vlak-3-waterbeperkings vir huishoudings en alle ander verbruikers onmiddellik van krag is.
“Waterbeperkings vir die Kaap Agulhas-munisipale gebied word weens lae reënval en damme se lae watervlakke ingestel. Dit word verder deur verlengde beurtkrag-periodes vererger,” het die munisipaliteit in ’n verklaring gemeld.
Die Sanddriftdam sowel as die Vleikloofdam, wat water aan die gebied voorsien, se watervlakke is baie laag – Sanddriftdam is slegs 18% vol, terwyl die Vleikloofdam op 40% staan.
Huishoudings wat meer as 20 kiloliter water per maand gebruik, en sakeondernemings wat die toegelate 50 kl per maand oorskry, sal aansienlik hoër tariewe vir water moet betaal.
“Indien huishoudings meer as 20kl per maand gebruik, sal ’n toeslag van 30% op die waterrekening gehef word,” het Eben Phillips, die KAM se munisipale bestuurder, verduidelik. “Ondernemings wat 50 kl per maand oorskry, sal 20% ekstra moet opdok.”
Die volgende maatreëls sal van krag wees:. Geen natlei van tuine en grasperke word van 07:00 tot 18:00 toegelaat nie;. Die was van voertuie en vaartuie met tuinslange met munisipale drinkwater word nie toegelaat nie;. Die was of afspuit van harde oppervlakke of geplaveide areas met munisipale drinkwater is verbode.
Verbruikers word gemaan om water spaarsamig te gebruik.
Enige navrae kan aan KAM se bestuurder van water en sanitasie by 028 425 5500 gerig of per e-pos gestuur word na info@capeagulhas.gov.za.