Waterkrisis in C’don

Om water te hê, is ’n reg – nie ’n voorreg nie.


Om water te hê, is ’n reg – nie ’n voorreg nie.

Dít word immers duidelik in die Handves van Menseregte in die Suid-Afrikaanse Grondwet omskryf – dat almal “die reg tot gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike sekerheid” het.

Die voortslepende waterprobleem in Caledon, wat vererger is deur die instelling van beurtkrag, het plaaslike inwoners onthuts gelaat. Dit gons die afgelope weke behoorlik op sosialemediaplatforms, waar inwoners stoom afblaas oor hul ontevredenheid en frustrasies.

Waterpype breek gereeld weens verouderde infrastruktuur. Hiermee kan inwoners nog tot ’n mate saamleef, want dit word gewoonlik spoedig herstel. Die Theewaterskloof-munisipaliteit is nie Caledon se waterverskaffer nie – die Overberg-waterraad is, en hy is nie in staat om voldoende water vir die dorp te lewer nie, veral nie tydens beurtkrag wanneer water nie na die reservoirs gepomp kan word nie.

Dit veroorsaak dat reservoirvlakke soms skrikwekkend laag is.

Maar die inwoners soek antwoorde by die TWK, nie van Overberg-water nie, want – soos hulle tereg sê – betaal hulle diensfooie aan die munisipaliteit en nie aan Overberg-water nie.

Dit is veral hoërliggende dele onder die N2, asook die middedorp, Uitsig, Riemvasmaak, Bergsig en Myddleton, wat daardeur geraak word.

Hoewel die munisipaliteit watertenkwaens – soms tot ses – uitstuur om water aan inwoners te verskaf, is inwoners “keelvol, om dit sagkens te stel”.

’n 84-jarige inwoner sê sy moet water uit haar reënwatertenks vir die huis gebruik. Sy moet ’n stel trappe klim met emmers vol water en sal nou ’n ander pompstelsel moet laat installeer om die water tot in die huis te kry.

Gastehuiseienaars sê hulle kan nie gaste se vrae oor wanneer hulle weer water gaan hê, beantwoord nie. Hulle probeer help deur kastrolle water te kook sodat hul gaste kan was, maar sê hulle verloor sake omdat ontevrede gaste by ander gastehuise, wat wel water het, gaan inboek.

’n Ander inwoner sê sy het in die voorafgaande 14 dae slegs twee dae water gehad. Mense is regtig moedeloos en vra hoe hulle dan nou onder die watertenkwaens skottelgoed en wasgoed moet was of stort.

’n Groep van meer as 60 bejaardes van Kaapstad het Sondag 2 Oktober ’n besoek aan Caledon se Kramat en veldblommetuin gebring. Hulle het die besoek baie geniet, maar dit was ’n groot verleentheid vir die organiseerders toe die gaste nie die ruskamers by ’n bekende vulstasie kon gebruik nie omdat dié gesluit was omdat daar geen water was nie.

Inwoners wonder ook hoekom kragopwekkers nie gebruik word om water gedurende beurtkrag na die reservoirs te pomp nie, veral aangesien Grabouw onlangs kragopwekkers gekry het.

Die TWK het in ’n persverklaring gesê die waarnemende munisipale bestuurder, Boy Manqoba Ngubo, het Vrydag 30 September ’n noodvergadering met die TWK-bestuur belê om gebruiklikheids­planne binne die bestaande wetgewing vir noodtoestande te implementeer om te help om die frustrasies (rakende die waterprobleem) te verlig.

“Ons gaan ons daarop toespits om ons waterinfrastruktuur op die waterpyplyne en die reservoirs se houvermoë te verbeter, en dit sluit die verkryging van kragopwekkers in om te help met waterverskaffing in vier strategiese gebiede.”

Die TWK het inwoners gevra om water slegs vir noodsaaklike gebruik te benut. “Wanneer daar water in die netwerk is, gebruik dit asseblief spaarsamig. Moet dit nie gebruik om swembaddens op te vul of tuine nat te lei nie.”

Watertenkwaens sal steeds in woonbuurte rondry om water te verskaf. Indien inwoners hulp benodig, kan hulle die bystandsnommer 083 261 6849 skakel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.