Die braaivleisvuur brand, jou vleise staan reg en die bykosse is gemaak – maar watter wyn skink jy in jou glas om met die braaivleis te geniet?
Die bekende skrywer, wynkonsultant en -kenner Emile Joubert vertel wat om die braaivuur in sy glas sal wees:
“My volledige braai-sessie sluit die hemelse drietal – hoender, lam en bees – in. En aangesien hierdie vleeslike gawes van sulke uiteenlopende geurprofiele is, werk ek noukeurig om die regte wyn vir die regte vleis te kies sodat ek volledige gastronomiese genot kan ervaar en kan toesien dat my gaste hierdie alles deel.
“Die braaihoender is vooraf deurnag in peri-peri-sous geweek, wat tydens die braaiproses gereeld oor die hoender gedrup word. Wanneer gaar, reik ek na wyne fris en droog en koel, want my peri-peri is nogal ’n tintelende brander in die mond. Sauvignon blanc, yskoud, werk ideaal.
“Lamstjops word vir 45 minute in suurlemoensap en Worcestersous gelê, en dan op warm kole gebraai totdat die vet kraak-gaar en die vleis binne ligpienk is. Bring my rooi, met elegansie wat die mond vol lê en met sy talmende nasmaak – dis cabernet sauvignon, en daar is so baie om van te kies.
“Sirloin (lendeskyf) is my keuse vir steak, met growwe sout gesmeer en baie swart peper oor hom gemaal. Braai op witwarm kole vir presies twee en ’n half minute aan elke kant. Ek kies ’n soepel syrah wat die geur van goeie vleis aanvul, met ’n mondvol geperste swartbessiesap en sy eie titsel peper-smaak.”