‘n Gesin moes in skok en afgryse toekyk hoe noodhulpwerkers spook om hul geliefde by te bring nadat hy na afloop van sy span se rugbywedstryd inmekaargesak het.
Die nooddienswerkers se pogings was egter tevergeefs en James Jonas (44) wat vir Kleinmond se derde span teen Genadendal uitgedraf het, is volgens berigte laat in die tweede helfte van die tweedespanne se kragmeting oorlede.
‘n Verklaring deur Boland-rugbyunie (BRU) berig dat die eerste span se kragmeting wat daarna sou volg “uit respek vir Jonas, sy geliefdes en die wyer rugbygemeenskap” afgelas is.
BRU het ook in die verklaring sy medelye met Jonas se gesin, vriende en spanmaats betuig en geskryf: “Met groot hartseer neem die Boland-rugbyunie kennis van die tragiese afsterwe van James Jonas, ’n speler van Kleinmond-rugbyvoetbalklub wat Saterdag 26 Julie ná ’n wedstryd in die Grootuitdaag-reeks tussen Kleinmond-RVK en Genadendal-RVK oorlede is. Ons gedagtes is veral by sy vrou en twee kinders, wat op die dag van die wedstryd daar was om hom te ondersteun en hom te sien doen waarvoor hy lief was — rugby speel.”
Jonas, 44, wat in Genadendal gebore is en skoolgegaan het, is beskryf as ’n toegewyde rugbyspeler wat Kleinmond-rugbyklub met ywer en passie verteenwoordig het. “James se verbintenis met albei klubs het hom ’n bekende en gerespekteerde figuur in die streek gemaak,” het die BRU in die verklaring gesê.
Bennie van Rooi, president van die Boland-rugbyunie, het bygevoeg: “Ons harte is seer oor die verlies van een van ons eie. James Jonas het nie net sy klub nie, maar die hele Boland-rugbyfamilie met sy teenwoordigheid verryk. Ons dra ons opregte meegevoel aan sy vrou, kinders, familie en almal wat hom liefgehad het, oor. Mag hulle troos vind in sy nalatenskap en die herinnering aan sy onwrikbare gees.”
Basil Swartz, voorsitter van Kleinmond-RVK, het die volgende bygevoeg: “James was ’n ware rugbyman; lojaal, nederig, en altyd bereid om alles vir sy klub te gee. Sy afsterwe laat ’n leemte wat moeilik gevul sal word. Ons klub treur saam met sy gesin en ons rugbybroers van Genadendal. Ons sal hom onthou as ’n man van integriteit, toewyding en ware sportmangees.”
Verskeie rugbyklubs van oor die Overberg heen het ook op sosiale media hulde aan James gebring. Genadendal-sportklub het geskryf: “Hiermee dra ons, ons opregte simpatie aan Kleinmond-rugbyklub oor met die afsterwe van een van hul spelers, James Jonas. Mag julle troos vind in sy herinneringe en krag in mekaar. Vanuit die hart van die rugbyfamilie – ons bid vir julle.”
Hawston-rugbyklub se plasing op Facebook lui: “Met groot hartseer neem ons kennis van die skielike afsterwe van ‘n geliefde rugbyspeler van Kleinmond-RVK, James Jonas. Ons as Hawston-RVK wil ons innige meegevoel spreek teenoor die Jonas-familie, sy vriende, naastes asook die Kleinmond-RVK-gemeenskap. Mag God julle in hierdie hartseer tyd onderskraag, omvou en vertroos. Vind julle krag in Hom. Ons hou julle in ons gebede. Rus in vrede James Jonas.”





