Volgens die aanbieder, André Verster van www.lrclassic.com, was dié suksesvolle uitstalling van die buitelewe- en avontuurleefstyl – waaraan talle Wes-Kapenaars gereeld deelneem en baie nog daaroor droom – só ’n groot sukses dat dit vroeër vanjaar tot die eerste Gautengse weergawe gelei het. Die Buitelewe- en Avontuurskou Broederstroom is van 16 tot 18 Augustus by B’Sorah buite Broederstroom gehou en was ’n ewe groot sukses.
“Die reëlings is nou gefinaliseer en die driedaagse program duur van Vrydag 8 tot Sondag 10 November,” het André gesê.
Die Elgin-Grabouw-sportklub is die tuiste van die Buitelewe- en Avontuur-ekspo. Hierdie pragtige perseel is sentraal geleë en is maklik bereikbaar. Die rit van Kaapstad of Worcester neem ongeveer 60 minute, terwyl die rit van Somerset-Wes, Gordonsbaai en Hermanus ongeveer 35 minute sal neem.
4×4-eienaars kan ’n rybeurt op die bekende Grabouw-4×4-roete reg langs die skouterrein bespreek en die ekspo voor of ná die geskud besoek. Die Grabouw-4×4-roete se eienaars verkoop die kaartjies by die beginpunt van die roete.
Die volledige program is op die webblad www.lrclassic.com beskikbaar. Kaartjies is van Woensdag 2 Oktobernou aanlyn te koop by TicketPro en ook by die hoofhek. Beperkte kampplekke is beskikbaar en kan slegs aanlyn bespreek word.