Die Militêre Akademie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in Saldanha se jaarlikse Trans Enduro-uithouren – ’n tog per land en see van Gqeberha na Saldanha – is volstoom aan die gang.


Die Trans Enduro is iets wat al so deel is van die Overberg soos kanola-lande en walvisse. Die uithouren wat Vrydag begin het, samel geld vir die Militêre Akademie se MASIZA-gemeenskapsprogram in, terwyl die studente ook langs die pad by projekte vir sosiale impak soos die skoonmaak van strate en woonbuurtes, die verf van skoolgeboue en besoeke aan tehuise vir bejaardes betrokke is.  

Die MASIZA-program fokus vanjaar op bejaardes en vroeë kinderontwikkeling. “Die hele oefening word beplan en uitgevoer deur die akademie se studente. Dit ontwikkel hulle leierskapsvaardighede en verbreed hul begrip van die praktiese aspekte van gemeenskapsdiens. In ruil, leer die gemeenskap die hoë kaliber van jong manne en vroue ken wat vir die land se verdediging verantwoordelik is,” sê lt.kol Morné Booÿjens, hoof militêre instrukteur aan die Militêre Akademie en mentor vir die deelnemers.

Nege spanne, waaronder ’n land-, draf-, fietsry-, media-, sein- en seespan, reis oor ’n tydperk van 10 dae van die Oos-Kaap na Saldanha en bly oor in dorpe al langs die roete.

Terwyl die fietsryspan ’n afstand per fiets aflê (100 km), reis die seespan al langs die kus met twee rubberbote en die landspan met voertuie van dorp na dorp om geld in te samel, terwyl die logistieke span gereed te maak vir die ander spanne se aankoms. Die drafspan lê elke dag ’n afstand van 10 km af. By sekere punte ruil die spanne om.

Dit is ook tradisie dat die burgemeester van elke dorp ‘n kort brief van welwillendheid aan die burgemeester van die volgende dorp skryf. Die brief word aan die wedrenleier gegee, wat dit dan aan die burgemeester van die volgende dorp oorhandig.

Hulle is eerskomende Donderdag by Kaap Agulhas by die Struisbaai-hawe en Vrydag by die Nuwe Hawe in Hermanus.

You need to be Logged In to leave a comment.