‘n Gelukkige hond in sy hondehok. Foto: Jana Shnipelson | Unsplash

‘n Troeteldier is nie net ‘n wag by die hek nie, maar ‘n lewende wese wat van jou afhanklik is vir sorg, aandag en beskerming.

Baie ongelukke en siektes onder troeteldiere kan voorkom word as mense hul erwe veiliger en meer diervriendelik maak.

Of jy nou ‘n groot erf of ‘n klein tuintjie het – elke ruimte kan verbeter word sodat diere gesond, veilig en gelukkig is. Maak seker jou erf is veilig Los drade, oop gate of hekke wat nie behoorlik sluit nie, kan veroorsaak dat diere in die straat beland of beseer word.

Kyk gereeld of jou heinings sterk en hoog genoeg is – veral vir energieke honde wat graag spring. Katte kom makliker uit, maar daar is maniere om hulle binne te hou, soos skuins drade of versperrings oor heinings.

Diere naby besige paaie moet altyd binne die erf bly, want selfs goed afgerigte troeteldiere kan skrik of agter iets aanhardloop. Diere het ook behoorlike skuiling teen hitte, koue en reën nodig.

‘n Hondehok moet droog en winddig wees, met sagte beddegoed en skadu in die somer. Sit dit op ‘n effens verhoogde plek om water weg te hou.

Katte moet ook toegang tot ‘n veilige lêplek hê, al is dit net ‘n klein stoepie of houthokkie. Moenie metaalhokke in die son gebruik nie, want dit raak ontsettend warm, en oop skuilings bied nie genoeg beskerming teen koue nie.

Sorg dat vars water altyd beskikbaar is. Waterbakke droog maklik uit of word vuil, terwyl vuil water siektes kan veroorsaak. Hou die bak in die skadu en was dit daagliks.

Hou ook kosplekke skoon en moenie kos oornag buite laat lê nie – dit lok rotte, goggas en ander ongewenste diere.

Wees versigtig vir giftige plante en gevaarlike stowwe. Plante soos oleander en lelies kan diere ernstig vergiftig as hulle daarvan vreet. Vervang dit met veilige plante soos laventel of roosmaryn. Hou plaagdoders, rotgif, verf en motorprodukte in geslote houers buite bereik van diere en pak skerp voorwerpe weg.

‘n Diervriendelike erf moet ook stimulerend wees. Diere wat verveeld is, begin maklik grawe, kou of probeer ontsnap. Sit speelgoed, kougoed en interessante goed neer om aan te snuffel. Wissel dit gereeld af sodat dit nie vervelig raak nie.

Honde hou daarvan om tonnels of bome te hê om onder te rus, en katte geniet hoë platforms om op te klim. Jy kan selfs ‘n hoekie met sagte grond maak waar jou hond na hartelus kan grawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article