Damian Coert se familie voel hulle het nie geregtigheid vir sy skietdood in Desember 2019 gekry nie.

Absolute stilte – by tye onderbreek deur ‘n sagte snik – het Woensdag (17 September) in die Hermanus-streekhof geheers in die oomblikke nadat ‘n Overstrand-wetstoepassingsbeampte, wat in verband met sy kollega Damian Coert se skietdood in Desember 2019 aangekla is, se pleitooreenkoms in die hof uitgelees is.

Damian se familie – sy ma, Miralda, wat die hofsaak die eerste keer bygewoon het, sy pa, David, wat getrou by elke verskyning was, en sy suster Marchellé – het gespanne gesit en luister toe Mattwin Hull, ‘n beampte verbonde aan die Overstrand-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid, drie jaar korrektiewe toesig opgelê is nadat hy skuld beken het op aanklag van strafbare manslag in verband met die voorval wat Damian se lewe geëis het.

Kort voordat die hofverrigtinge begin het, het Marchellé emosioneel aan Hermanus Times gesê sy en haar ouers het vrede gemaak met watter straf ook al opgelê gaan word. “Ons moes, want niks gaan ooit my broer terugbring nie,” het sy bygevoeg.

In Hull se pleitooreenkoms, wat deur sy prokureur, William Booth, aan die hof voorgelees is, het Hull erken dat hy op die noodlottige dag uit die werksvoertuig geklim het en besig was om sy vuurwapen te beveilig toe ‘n skoot afgegaan het en Damian in die gesig getref is. In die pleitooreenkoms het hy erken dat hy nalatig opgetree het, maar gesê hy het geen “reckless intent” gehad nie en die skoot het “per ongeluk” afgegaan.

Booth het ook aan die hof genoem dat die beskuldigde en sy familie sedert die noodlottige voorval aan “aansienlike stres en angs” gely het en dat Hull vir die res van sy lewe moet saamleef met die wete dat hy sy kollega en vriend se dood veroorsaak het. Hull is ook vyf jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie in hierdie tydperk aan ‘n soortgelyke aanklag skuldig bevind word nie.

Geen antwoorde; geen afsluiting

Volgens Damian se familie was die dag van die pleit- en vonnisverrigtinge baie traumaties en het dit vir hulle “gevoel soos die dag toe Damian gesterf het”.

“Ons het die pyn van voor af ervaar,” het David Coert, Damian se pa, gesê. Die gesin het die oggend van 26 Desember 2019 die skokkende nuus gekry dat hul seun raakgeskiet is en in ‘n kritieke toestand hospitaal toe gejaag moes word.

Hoewel Damian aan lewensondersteunende masjiene gekoppel en die prognose swak was, het die Coert-familie nog vir twee dae op ‘n wonderwerk gehoop. Damian is egter op 28 Desember in die vroeë oggendure dood nadat sy hart gaan staan het.

“Mattwin se optrede het my seun se lewe geëis. Daar is nie nog ‘n Coert-seun om ons van voort te dra nie. Mattwin het dit van my af weggevat en daarom kan ek hom nooit vergewe nie,” het David Coert emosioneel gesê.

Oor die pleitooreenkoms is hy ook baie ontevrede. “Hy het die maklike uitweg gekies om skuld te beken en die verhoor te vermy wat dalk tot tronkstraf kon gelei het,” was sy mening.

“Die saak is nou klaar, maar ons het nog soveel vrae en geen closure nie.

“Die staat en Damian se kollegas het hom gefaal. Hoe is dit dat niemand iets gesien het nie? As jy jou wapen beveilig, wys dit grond toe. Hoe is dit dat my seun in die gesig geskiet is? Ek voel die ondersoek is nie reg gedoen nie en al die feite is nie voor die hof gebring nie.

“Mattwin se optrede het my seun se lewe geëis, dus voel ek tronkstraf sou meer gepas gewees het, want ná die drie jaar kan hy aangaan met sy lewe en al wat ons het, is die pyn, trane en verlange – vir die res van ons lewe. Sy lewe gaan aan en ons rou nog elke dag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article