’n Sterk wind het Caledon se span Saterdag in sy wegwedstryd teen Darling effens gekniehalter.
Liaan King, die Caledon-rugbyklub se voorsitter, sê die wind het in die eerste helfte ’n groot invloed op die spel gehad. Op een tydstip, toe ’n speler die bal sou oorgeskop het, het die wind die bal teruggedruk. “Een van ons spelers het ingeskop, maar die wind het die bal teruggedruk. Ons het ook twee maklike drieë afgestaan,” het King gesê.
Nadat Caledon die eerste helfte teen die wind gespeel het, was die halftyd-telling 12-17 in Darling se guns.
Darling het aan die begin van die tweede helfte ’n drie aangeteken, wat verdoel is om die telling 24-12 in sy guns te maak. Nadat die wind effens bedaar het, het Caledon alles ingesit om die wedstryd in sy guns te swaai.
“Ons het twee geelkaarte gekry, maar het teruggekom met alles wat ons het en in die laaste paar minute drie drieë gedruk, waarvan een verdoel is. Stanley Frans het die wendrie gedruk,” vertel King.
Lorenzo Swarts is weer – die tweede week agtereenvolgens – as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het twee drieë gedruk. Ander puntemakers vir Caledon was Preston Dramat en Menwill Adams (een drie elk).
Caledon het die wedstryd 31-24 gewen.
Met vyf punte nou agter sy naam het Caledon ook ’n bonuspunt verdien en die span reis hierdie naweek na Ceres waar hy teen Bella Vista sal kragte meet.. Die manne van Hawston Skrik vir Niks het ook weens die sterk wind in St. Helenabaai ’n bietjie kleigetrap.
“Dit is ’n wedstryd wat ons kon en moes gewen het,” sê die eerstespan-kaptein Branden Hunter. “Ons het wipplank gery met die wind, wat die hele wedstryd erg gewaai het.”
Skrik vir Niks het in die eerste helfte oorheers en halftyd 12-7 voorgeloop. Die feit dat hy die tweede helfte teen die sterk wind moes speel, het die span van Hawston ’n bietjie ondergekry.
St. Helenabaai het die wedstryd 27-19 gewen. Hunter en Cameron Plaatjies het drieë vir hul span gedruk. Roland Swartz het in die eerste helfte drie strafskoppe oorgeskop en sodoende nege punte vir sy span aangeteken. Hy het egter nie daarin geslaag om twee drieë te verdoel nie.
“Ons het baie kanse gehad, maar kon dit nie in punte omskep nie. Ons moet hierdie week terug tekenbord toe vir ons volgende wedstryd Saterdag tuis teen Rangers van Robertson. Dit is ’n wedstryd wat ons net moet wen,” het Hunter bygevoeg.