Vroegweek sê Jenny my bruinkop pappegaai dit kom weer reën.  Sy  kan nie praat nie maar  het die manier om slapenstyd aan die wegkant van haar hok voor die venster te gaan sit.  Aan haar onrustigheid kan ek sien wat aan die kom is en dat ‘n buitjie dalk hierdie Vrydag uitsak.   Dan skakel ek maar die elektroniese goeters aan en dit lyk of Dinsdag se bui meer as ‘n nat kombers sal wees.    

       Buurman sê hy dink Dinsdag se neerslag sal so 5  of dalk 6 mm wees.Maar wat ons vandag in die Suidkaap beleef is alweer ‘n teistering van die noordoos, wat inmeng met goeie opwaartse klam lug uit die Arktika.  Wat verstommend is, is die val van temperature na 13 grade terwyl die son sommer lekker tot ongeveer die middaguur skyn. Hopenlik sal dit dan tot 18 grade styg en die gehate virus ‘n bietjie teenwerk. 

       Maar dit is nou maar  so dat ons in ‘n verkoue seisoen is. Wat in ons guns tel, is dat veral klein kindertjies, wat maar altegou van hul truie en warmgoed ontslae kan raak, nou by die huis en hopenlik  onder verantwoordelik toesig is.

        Die hoogdrukke is ook nog pal rondom die Suidkaap wat net weer wys dat as hoor en sien in die bolug wil vergaan, dan bly die Overberg maar op die kantlyn en alles gaan net rustig voort, behalwe dat ons met die hande in die hare sit oor beskikbare plante vir die wintertuine.

        Die noordoos sorg ook daarvoor dat die Overstrand Saterdag sonnig sal wees en ideaal vir rondstap (al is dit al om die huis) maar lekker snoesig vir inkopies by winkels, waar die gewag om ingelaat te word, draagliker is.  Sê nou maar dit sou reën?

        Kyk ons na die res van die week, sien Langfaan goeie tekens in die wolke wat sterk opbou.  Hy wys daarop dat die Suidkaap se damme nog heelwat beter staan as die res van die land waar die gemiddelde vlakke tussen 30 en 40 persent wissel.   Die algemene droogte sal volgens hom net vererger.

       Dit is hartseer om te sien dat mense na elke ligte buitjie glo  hulle kan maar minder spaarsinnig wees en water mors.  Hy sien dit veral by kleinhoewes waar mense ten alle koste hul groentetuine probeer in stand hou. 

     Die goeie tekens wat hy sien is die noordwestewind, wat besig is om in plek te kom vir winterkonveksies. Die Suidkaap sal daarby baat.

You need to be Logged In to leave a comment.