Sy vroetel senuweeagtig aan ’n sneesdoekie terwyl sy haar lewensverhaal van jare lange mishandeling vertel.

“Jy weet, ek is sterk grootgemaak en ek het selfs ’n nagraadse kwalifikasie, maar ’n ‘wolf in skaapklere’ het my lewenslus, my ambisie en my liefde vir die lewe kom wegraap,” vertel Chantel*.

Chantel is ’n sakevrou van die Overberg; mooi en goed versorg, maar haar oë is hartseer en haar stem bewe terwyl sy oor haar man praat. “Ek wil vroue waarsku. Ons is grootgemaak om te trou en kinders te kry. Ons is grootgemaak om onderdanig te wees; ons is grootgemaak om ons mans gelukkig te hou – ten koste van onsself. Ek is nou al 30 jaar getroud en lei ’n dubbele lewe – een van ’n suksesvolle sakevrou en die ander as ’n onderdanige vrou wat emosioneel mishandel word”.

Haar verhaal stem ooreen met dié van duisende vroue wat ook elke dag onder emosionele geweld deurloop. Dit vertel die storie van ’n vrou wat ná haar universiteitsloopbaan halsoorkop verlief geraak het op ’n man wat haar soos ’n prinses laat voel het, wat haar die maan en sterre beloof het en haar ridder op die wit perd was.

“Ek was absoluut mal oor hom. Ons het by ’n werkgeselligheid ontmoet. Hy het my voete behoorlik onder my uitgeslaan en ek het gedink hy’s die een. Ná ons troue het dinge stelselmatig verander. Hy het begin fout soek met my familie en vriende. Ek moes later verslag gee oor almal wat ek by die werk sien en met wie ek praat. Ek is ook later verbied om by die gimnasium te gaan oefen en ons boekklub by te woon. Hy het my stelselmatig van almal vervreem.”

Ná die geboorte van hul eersteling het dinge erger geword en kon sy nie eens haar ma se hulp inroep om haar ná die geboorte te ondersteun nie.

“Hy het gesê ek is ’n vrou en ek moet net regkom. Dit was harde tye, maar ek het my gebedsvriende gehad wat my ondersteun het. Ek het daardeur gekom en met ons tweede kind se geboorte het ek geweet wat van my verwag word en net aangegaan. As sy slaap, het ek geslaap, ek was voorbereid”.

Volgens haar was sy vir lank in ’n donker gat en het sy gevoel sy kan nie daaruit kom nie. “Ek was finansieel afhanklik van hom en hy het dit geweet, maar waarmee hy nie rekening gehou het nie, is die feit dat gebed kragtig is, en as jy vriende het wat saam met jou bid, kan die Here jou omstandighede verander. Die Here het my deur die tyd gedra en daar was lig aan die einde van die tonnel. Elke lelike woord wat hy my toegesnou het, het my net sterker gemaak, en dit het hom ondergekry. Ek het begin lag as hy my slegsê en ’n grap van alles gemaak.”

Sy het ’n paar jaar gelede ná haar pa se dood geld geërf en dit glad nie met haar man gedeel nie. “Dit was ’n besluit wat ek geneem het – nie net ter wille van myself nie, maar ook ter wille van my kinders en kleinkinders. Ek het ’n besigheid begin en die (res van die) geld belê. Niemand weet ek is die eienaar van die besigheid nie. Hulle dink ek bestuur die plek. Volgens my man kry ek ’n karige salaris, wat ek in elk geval vir hom gee. Hy is onder die indruk dat ek steeds afhanklik is van hom. Die gevoel gee my mag en baie meer selfvertroue. Ek gee meer aandag aan myself en lewe vir my kinders en kleinkinders.”

Op ’n vraag of sy ooit haar man sal verlaat, antwoord sy hartseer: “Ek het al baie daaraan gedink, maar dan dink ek aan my kinders en kleinkinders. Die kleinkinders verafgod hul oupa en ek weet ek gaan hulle skade aandoen. Ek is op ’n goeie plek in my lewe. Ek het dit my plig geag om my seun groot te maak om sy vrou te respekteer, om die leier in die huis te wees en sy vrou eendag beter vir Jesus terug te gee as wat hy haar ontvang het. Ek en my skoondogter het so ’n goeie verhouding en ek is dankbaar vir die kinders in my lewe.”

Die raad wat Chantal vir ander vroue het – hetsy jy ongetroud of self in so ’n verhouding is – is om vir jou ’n ondersteuningsnetwerk op te bou.

“Daardie sêding van ‘liefde is blind’, is die waarheid. Jy luister nie na ander se raad nie, jy volg in elk geval jou eie kop. En as jy in die situasie is en dan nie kan uit nie, maak jouself sterk. Jy is ’n vrou. God het jou gemaak, en God maak nie mislukkings nie. Wees sterk, wees vasberade en hou jou oë gevestig op die Saligmaker.” * Chantal is ’n skuilnaam.

You need to be Logged In to leave a comment.